Elrico Witbooi haal !Nabas uit die Kalahari-sand.

Foto: Anena Burger

!Naba, Kalahari-truffel, Kalaharituber pfeilii – die Kalahari se mees geliefde veldkos uit sy skatkis van goue wonders.

!Naba, sê dit met ’n lekker tongklap by die uitroepteken. Maar dit is nie net ’n iets om die honger te stil nie, dit is soveel meer – dit is ’n Kalahari-leefwyse.

Toe die donker wolke sedert November vir die eerste keer in jare al donderend goeie reën na die Kalahari bring, het ’n sug van verligting uit die dorre veld opgegaan. Water het in die grond ingesypel en lewe het in die duine ontpop soos daar lanklaas beleef is.

Teen einde Maart het die woestynbewoners stil begin asem ophou en vir die !Naba-reën gewag.

As daar nog ’n paar goeie buie in die eerste weke van April val, is die Kalahari se eie Paasjag in volle gang.

Die jag na daardie lekkerste van alle lekkerstes: !Nabas. Dit is ’n familiegedoente waaraan almal van jonk tot oud deelneem. Man-man met ’n sakkie in die hand vroemôre duine toe.

Dan word daar gesoek en gegrou dat die stof staan.

Ook versigtig en nie gierig nie, want ’n paar moet agterbly vir die jare vorentoe se oes. Dit is belangrik dat daar spore oorbly sodat die !Nabas weer in goeie reënseisoene kan terugkom en familiepret, lekker kos en samesyn kan verseker.

Reën het gekom

Die reën­ het gekom en teen die einde van April het die inwoners van die Kalahari breed geglimlag. Ná ’n lang, uitmergelende droogte was die !Nabas vir die eerste keer in vyf jaar terug en die woestyn het gejuig.

!Nabas, !Nabas, !Nabas, sommer so groot soos tennisballe.

Maar wat is ’n !Naba en hoekom is dit so spesiaal vir die mense van die Kalahari?

Dié lekkerny wat aan die einde van goeie reënseisoene aan die voet van ’n duin vlak onder die sand groei, is ’n swamgenus in die familie Pezizaceae. Dit is ’n monotipiese genus, waarvan die enkele truffelagtige spesie, Kalaharituber pfeilii, in die Kalahariwoestyn oor die grootste deel van Botswana, die ooste van Namibië en die Noord-Kaap voorkom. En dit is slegs in die Kalahari en slegs gedurende April en Mei dat jy ’n !Naba sal kry.

Die sampioenagtige vrug smaak . . . wel, soos ’n kruising tussen jong aartappeltjies en sampioene.

Bakoortjies het ons geleer

Elrico Witbooi, ’n !Khomani-San-inwoner van Welkom, ’n klein nedersetting sowat 5 km voor die Kgalagadi-oorgrenspark, vertel die Boesmans van ouds het by die bakoorjakkalse geleer om dié voedsame kos te eet.

Navorsers het gevind dat !Nabas al honderde jare deel van die !Khomani-San se dieet is.

“Jaaa, ons het maar so vir die bakoortjies gekyk wat hulle van hou om te eet. Hulle het vir ons gekom wys waarvan hulle hou. So het die Boesmans gekom om die !Nabas uit te grou,” vertel Elrico, wat in die gemeenskap ook op sy kleinnaam (bynaam) Eicke genoem word.

Volgens Eicke is die !Nabas ’n belangrike simbool vir die !Khomani-San.

“Dit is deel van ons kultuur. ’n Feesviering van die goeie reënjaar wat ons beleef het.

“Dit beteken die diere van die veld is mooi en dit gaan met ons goed.”

SJ Koortzen, ’n boorling en boerseun wat in die hartjie van die Kalahari grootgeword het, sê sy gunsteling-herinneringe van sy kinderjare is aan !Naba-tyd.

“!Nabas is nie net ’n kos wat ons in April kry nie. Dit is ’n gesinsding. ’n Kuierding tussen die boere van die omgewing.”

!Naba-tyd

As kinders het hulle vroegoggend opgestaan, want in die winter raak die son steeds warm in die Kalahari.

“Jou ma het dan jou klere vir jou uitgesit. Met !Naba-tyd is daar baie suurgras en jy kan nie jou sweetpakbroek aantrek nie. Dit was jou enigste jeans of jou kerkbroek, sodat die grassaad nie oral vassit nie,” sê hy skertsend.

“En dan word die plastieksakke gesoek in die huis en ’n boks word op die bakkie gelaai waarin almal se !Nabas gegooi sou word.”

Hy onthou die samekoms van die families.

“Die nefies sou rondhardloop en geitjies jag terwyl die grootmense die !Nabas berei en kook. Daar is dan saamgekuier.”

Maar ná vyf jaar waarin die !Nabas weg was, is daar ’n effe suinigheid in die lug.

“As jy jou buurman bel om te hoor of daar !Nabas is, is daar so ’n láááng stilte. Jy hoor hy wil nie rêrig deel nie, maar op die ou end word jy maar gebel en gesê: ‘Kom ons maak vanaand vaalvleis en !Nabas.’ ”

Vaalvleis is nog ’n watertand- tradisionele gereg en eg aan die kontrei.

“Dit is heel lamrugstringe wat 38 minute saam met die !Nabas gekook word. Net asyn, sout en peper word bygevoeg.”

Hy lag lekker toe hy vertel hoe snoep daar geëet word.

“Daar kan soms tot ses lammers in die vleiskamer hang waarvan net die rugstringe weg is.”

Resepte

Net soos elkeen sy eie metode het om hierdie !Nabas te berei, het elkeen ook sy eie metode om die vrug skoon te maak.

“Jong, daar was spesiale siwwe wat net gebruik is om !Nabas te was en ná die seisoen weer gebêre is. Maar deesdae spoel ons hulle net goed af en skil hulle af.”

Die !Nabas word dan vir sowat agt minute gekook.

“Eers die grootstes, en dan kom die kleineres by. Jy moet hulle ook nie te lank kook nie. Dit moet net effe sponserig voel.”

SJ sê die beste manier om !Nabas te eet, is met ’n bietjie botter, sout en peper, maar as ’n sous oor ’n gemsbok- of biefstukfilet smaak dit darem net so vorentoe.

Dit is baie belangrik dat dié veldkos, wat endemies aan die Kalahari is, bewaar word. !Nabas het oor die afgelope paar jaar ’n belangrike bron van inkomste vir die !Kho­mani-San en ander stamme in die omgewing geword. Hulle oes die !Nabas en verkoop dit teen ’n goeie prys.

Bedreig

Die lekkerny word egter deur die landbou bedreig.

Luidens studies deur James Trappe, ’n Amerikaanse mikoloog (kenner van swamme) wat jare navorsing oor !Nabas gedoen en eindelik in 2005 die spesie onder sy eie genus geïdentifiseer het, word die habitat van die !Nabas deur die oorbeweiding van vee bedreig.

Sy studies het ook getoon hoewel !Nabas geweldig goed aangepas en teen die ekstreme woestynreënvalpatrone gehard is, het klimaatsverandering wel ’n invloed op die genus se voortbestaan.

Vir SJ en Eicke is dit ’n groot realiteit.

“Ons wil graag ons !Nabas vir ons nageslagte bewaar. Ons kinders moet ook hierdie lekkerte kan geniet.”

Daarom word die laaste stukkie van die geoeste !Nabas wat nie pot toe gaan nie weer in die veld gegooi.

“Jong, ons weet nie of dit werk nie, maar ons doen dit maar.”

Vele het al probeer om !Nabas aan te plant, maar die wonderkos groei waar hy wil en soos hy wil, en is nie aangepas om aangeplant en gekultiveer te word nie.

“Jy kan nou maar maak wat jy wil. Maar dit is wat dit so uniek en spesiaal vir ons maak. Ons veldkos is so wild en eiesoortig soos die Kalahari. Jy sal dit net hier kry.”

Só lyk die !Nabas na dit uit die sand gehaal is.

Só lyk die kenmerkende krakie in die sand wat aandui dat ’n !Naba onder die oppervlak skuil.

SJ Koortzen het in die Kalahari grootgeword en van kindsbeen af !Nabas saam met sy maats uitgegrou. Vandag is hy die eienaar en sjef van die Kgalagadi Lodge, waar hy geregte eie aan die Kalahari met veldkos optower.

Die !Nabas word skoongewas en geskil voordat dit vir ’n paar minute gekook en dan gebraai word.

SJ Koortzen sny die gekookte !Nabas op voordat hy dit saam met uie en botter in ’n pan braai.

Steak met ’n !Naba-sous smaak voortreflik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article