Twee broers is haaks. In woede maak Kain vir Abel dood.

Die Here roep vir Kain tot verantwoording.

“Waar is jou broer, Abel?”

Ewe astrant antwoord Kain: “Moet ek dan my broer oppas?”

Hierop antwoord die Here: ”Wat het jy gedoen? Die bloed van jou broer roep van die aarde af na my.”

Dan kondig Hy die straf oor Kain aan.

Onreg en moord is steeds aan die orde van die dag in letterlik elke deel van ons samelewing, van die eenvoudigste plakkershut tot in die luuksste woning.

Kain en Abel se storie verseker ons: Onreg gaan nie by God verby nie.

Ons kan die oordeel veilig in sy hande laat.

“Moet ek dan my broer oppas?”, het Kain sarkasties gevra.

Ja, Kain, dit is presies wat God vra.

Ons moet mekaar se oppassers wees. Selfs die geringste mens is my broer en ek is sy oppasser.

Daarom het Jesus per geleentheid gesê: “Ek was honger en julle het My iets gegee om te eet. Ek was dors en julle het My iets gegee om te drink.

“Vir sover julle dit aan een van die geringstes van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.”

Kom ons maak ’n verskil deur vir mekaar, selfs vir die geringste persoon, ’n broer en ’n suster te wees, deur mekaar se belange – ja, ook mekaar se veiligheid, op die hart te dra.

Ek en jy is immers mekaar se oppassers.

(Genesis 4:1-16; Matteus 25:31-46).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article