Die verhoor in die opspraakwekkende aanval en moord in Julie 2020 op die Brand-gesin van Hartswater begin Maandag (05/09) in die hooggeregshof in Kimberley.
Die verdwyning van Dan (83), Breggie (79) en hul dogter Elzabie (54), en hul moord het met optogte teen plaasaanvalle by die hof in Hartswater gepaard gegaan waar die verdagtes ná hul inhegtenisname verskyn het.
Landbouleiers en inwoners het hul misnoeë oor die moord en misdaad uitgespreek.
Die beskuldigdes is almal van buurtes van Taung afkomstig. Donald Seoleseng (21) en Tshepo Visagie (36), albei van Majaneng; Realeboga Manyedi (20) van Takaneng; Kgomotso Mpulwana (43) van Rooivaal; en Tsepaone Melato (20) van Pudimoe, word aangekla van drie aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede, drie aanklagte van ontvoering en drie aanklagte van regsverydeling. Seoleseng word ook van ontsnapping aangekla.
Luidens die akte van beskuldiging het die aangeklaagdes vir Daniel Petrus (Dan) Brand, Hybrecht Elizabeth (Breggie) en Elizabeth Margaretha (Elzabie) Brand op 26 Julie 2020 vanaf ‘n perseel in Mogogong in Hartswater aangerand, ontvoer en vermoor. Die aangeklaagdes word van regsverydeling aangekla omdat hulle die lyke in Taung versteek het om die moord te verdoesel. Verskeie besittings en twee motors is ook van die Brand-gesin gesteel. Visagie het na bewering op 26 Julie ‘n skootrekenaar en selfoon wat aan die oorledenes behoort het, verpand.
Die Brand-gesin is die laaste keer op 26 Julie omstreeks 12:00 by hul huis opgemerk. Die volgende dag het ‘n familievriend hulle as vermis aangemeld en opgemerk dat hul twee voertuie, ‘n rooi Nissan Micra en ‘n silwer Mazda 5, weg is. Die polisie het ‘n grootskaalse soektog begin en later daardie dag op die Nissan met ‘n beskadigde wiel by ‘n gruisgroef in Majaneng, Taung, afgekom.
Gedurende die nag van 27 en 28 Julie 2020 het die polisie die Mazda 5 met vyf insittende op die N12 opgemerk waar dit in die rigting van Vryburg gery het. Visagie, wat bestuur het, het glo uitgeklim en weggehardloop. Mpulwana het agter die stuurwiel ingeklim. Die ander insittendes was Seoleseng, Manyedi en Melato. Mpulwana is in besit van Breggie se selfoon gevind. Seoleseng is geboei en agterin die vangwa gesit, maar het ontsnap terwyl die polisie nog na die Brands gesoek het. (Hy is later weer aangekeer.)
Die slagoffers se lyke is op 29 Julie op verskillende plekke in ‘n onbewoonde gebied by Diretseleng in Taung gevind. Hulle was vasgebind. Dan is met ‘n stomp voorwerp, en Breggie met ‘n stomp en skerp voorwerp gedood, terwyl Elzabie verwurg is. Visagie is later dieselfde dag in hegtenis geneem en in besit van Breggie se pienk geheuestokkie gevind.
Op 1 Augustus is Elzabie se handsak met haar persoonlike besittings en Breggie se skootrekenaar in Mpulwana se kamer gevind.
Die staat voer aan die aangeklaagdes het saamgewerk om die misdaad te pleeg.
Al vyf is sedert hul inhegtenisname in aanhouding.





