Die Noord-Kaapse skrywer, Engela Ovies van Noudonsies naby Augrabies, se tweede boek Flora is nou op die rakke.
Dit volg op haar debuut-roman, Draairivier, wat in 2020 verskyn het.
Flora is ’n hartroerende verhaal oor ’n dapper tienermeisie se liefde vir haar sibbe en die opofferings langs die pad om haar ma se laaste wens te laat waar word.
Flora Beukes woon saam met haar pa Frans, ma Siena en drie jonger sibbe op die Myburghs se plaas in die distrik Keimoes.
Tydens die Kersvakansie van 1982, terwyl Siena planne maak om van Frans te skei weens sy drinkery, gebeur die onvermydelike en word die gesin een nag uitmekaar geruk.
En die Beukes-kinders word aan hul eie lot oorgelaat.
Flora voel verantwoordelik vir haar jonger broers en sussie se welstand, maar in die herberg op Doringvlei word die kinders se lewe nog verder omvergegooi.
Voor Flora haar oë kan uitvee, bly sy alleen agter.
Haar hart is stukkend, maar sy is vasbeslote om weer haar boeties en sussie onder een dak te kry en ’n huis vir hulle te bou.
Die verhaal getuig van medemenslikheid en vergifnis – eerlikheid, deernisvol en opreg.
- Een leser van NoordkaapBulletin staan ’n kans om dié boek te wen.
- Om in te skryf, stuur jou naam, van, waar jy woon en ook kontakbesonderhede voor of op Sondag 18 September om 17:00 na noordkaap@media24.com en na helena.barnard@media24.com




