Die Noord-Kaap neem (steeds) die eerste plek van alle provinsies in die land in – en Suid-Afrika die eerste plek ter wêreld – wat betref die hoogste voorkoms van fetale alkoholsindroom (FAS).
Tot soveel soos 282 uit 1 000 babas wat in sommige Noord-Kaapse gemeenskappe gebore word, het FAS. Dit beteken bykans een uit drie kinders in dié gemeenskappe het die toestand. FAS veroorsaak permanente skade, kan nie deur medisyne of terapie genees word nie en iemand met dié toestand het dit lewenslank.
Alle kinders met FAS het die een of ander vorm van breinskade. Op sy beurt lei dit tot stadige ontwikkeling en leer- en gedragsprobleme.
Dr. Leana Olivier, uitvoerende hoof van die Foundation for Alcohol Related Research (FARR), sê FAS is een van die hoofredes waarom kinders op ’n vroeë ouderdom nie meer skool bywoon nie.
Sulke kinders en ouer mense is onwaarskynlike kandidate om ’n plek in die werksmag te beklee, en veroorsaak onder meer ’n geldelike en emosionele las op ’n familie en gemeenskap.
Om swanger vroue aan te raai “om net nee vir alkohol te sê”, los nie die probleem op nie; nog minder om dit aan elkeen se eie oordeel te laat, sê Olivier.
Die gebruik en misbruik van alkohol vind op alle vlakke van die samelewing plaas, en FAS kom nie net by diegene in laerinkomstegroepe voor nie.
In alle inkomstegroepe is vroue wat met alkoholafhanklikheid worstel; vir ander is die gebruik of misbruik van alkohol deel van sosiale samesyn; of dit verdoof die geslagsgeweld waaraan hulle blootgestel word, onverwerkte trauma of die uitwerking van stresvlakke wat voortdurend hoog is.
Met Internasionale FAS-dag wat Vrydag (09/09) plaasvind, word statistieke weer deur organisasies beklemtoon om veral een boodskap oor te dra: “FAS veroorsaak permanente skade. Tog is dit 100% voorkombaar deur nie alkohol tydens swangerskap te gebruik nie.”




