Winkelstoepe by die Kimberley-mynmuseum was onlangs ’n miernes van handelaars wat hul produkte uitgestal het, met belangstellendes wat rondgesnuffel en gekoop het.
Dié bedrywigheid het op 8 Oktober plaasgevind toe Kimberley Markets vir die eerste maal ’n markdag by dié museum, waar die bekende Groot Gat geleë is, aangebied het.
Freddie Greeff, wat saam met Marais Tesner Kimberley Markets bedryf, vertel dat hulle baie tevrede met die aantal stalletjiehouers en besoekers is.
Altesaam 70 stalletjiehouers het uitgestal, en benewens mense wat spesifiek die mark wou bywoon, het besoekers aan die Groot Gat en historiese myndorpie ook tot goeie verkope bygedra.
Kimberley Markets het voorheen maandeliks ’n mark op die Kimberley DBV se perseel aangebied, maar die ruimte daar het te klein geword.
“Hier kry die stalletjiehouers beter aftrek waar ook meer voete toevallig verbykom,” sê Greeff.
“Baie van die stalletjiehouers is van die inkomste afhanklik.
“Ons is trots op ons uitstallers; en trots op hierdie eerste markdag.”
Die volgende geleentheid is ’n aandmark, wat op 29 Oktober van 15:00 tot 21:00 sal plaasvind.
Toegang tot die mynmuseum en mark is gratis; en vir markdae kos toegang na die Groot Gat slegs R50 per persoon.
Tydens die volgende mark gaan ’n spooktoer, aangebied deur Steve Lunderstedt, ook plaasvind.
Vir meer inligting, bel Greeff by 082-309-9056 of Tesner by 082-309-7885.




