Barkly-Wes en die groter gebied van die Dikgatlong-munisipaliteit gaan vinnig agteruit.
Volgens Delmaine Christians, DA-LP, is twee munisipale voertuie wat vir die suig van die rioolstelsel aangewend word, reeds vir ’n geruimte tyd in Kimberley vir herstelwerk.
’n Splinternuwe rioolvragmotor mag blykbaar nie gebruik word voor die lintknipseremonie nie.
Boonop is daar groot slaggate in die dorp se hoofpad terwyl grondpaaie nie geskraap word nie. Spoedtekens bestaan nie, daar is geen toegewysde vragmotorstoppe, en straatligte werk reeds vir maande nie. Die party het ’n memorandum aan die munisipale bestuurder oorhandig, wat haar tot terugvoer verbind het.
- In Kathu word steun vir ’n petisie ingewin om die plaaslike verkeerskantoor weer ten volle te laat funksioneer.
Volgens Henriëtte du Plessis, DA-koukusleier in die Gamagara-munisipaliteit, het ’n toesighoudende inspeksie in Januarie ernstige bestuurs- en bedryfsfoute oopgevlek, en tien maande later is dienste slegter as ooit.
Die voertuigtoetsstelsel wat vroeër vanjaar opgradeer is, werk vir meer as vyf maande nie, en weens dit verloor die munisipaliteit baie inkomste.
Die besluit dat ’n register met verwysingsnommers gebruik moet word vir inwoners wat nie by die verkeerskantoor gehelp kan word nie, word nie nagekom nie.
Die bespreking en toetsing van leerling- en bestuurslisensies is van die beskikbaarheid van die bestuurder afhanklik.
Slegs een boeteboek is beskikbaar met geen verkeersbeamptes wat aandag aan padongelukke gee nie.
Die party samel handtekeninge van die gemeenskap in om meer druk op die munisipaliteit te plaas om bestuur te implementeer en verkeersverwante dienslewering te herstel.


