Moria Marais, departementshoof by die Noord-Kaapse departement van onderwys, en Zolile Monakali, LUR, by die Emmanuel Senior Secondary School in Homevale, Kimberley, waar hulle die aanvang van vanjaar se Nasionale Seniorsertifikaateksamen waargeneem het.

Foto: Helena Barnard

Kandidate in die matriekeindeksamen het Maandag (31/10) vroeg reeds in die eksamenlokaal gereed gesit, in afwagting vir hul eerste vraestel wat om 09:00 sou begin het.

’n Totaal van 16 105 kandidate het vanoggend (31/10) by eksamenlokale oor die Noord-Kaap heen vir hul eerste vraestel in vanjaar se Nasionale Senior Sertifkaat-eksamen (NSS) opgedaag.

Hiervan is 13 873 heeltydse kandidate, en 2 232 deeltyds.

By die Emmanuel Senior Secondary School in Homevale, Kimberley, het leerlinge vroeg reeds voor die skoolsaal wat as ’n eksamenlokaal ingerig is, gewag.

Hier het Zolile Monakali, die Noord-Kaapse LUR van onderwys, en Moira Marais, die departementshoof, die aanvang van vanjaar se NSS-eksamen waargeneem.

Volgens ’n mediaverklaring van die departement is 145 eksamenlokale in die Noord-Kaap vir die NSS-eksamen voorberei. Elk van die lokale is deur distriks- en provinsiale amptenare volgens ’n nasionale standaard geoudit.

Monakali sê hoewel beurtkrag ’n uitdaging kan wees, is die praktiese deel van die eksamen in rekenaartoepassingstegnologie en inligtingstegnologie reeds afgehandel.

Volgens hom word die meeste vraestelle in die oggend van 09:00 tot 12:00 geskryf, wanneer natuurlike lig voldoende is. Slegs enkele vraestelle word in die middag, van 14:00 tot 17:00, geskryf.

Oor die situasie by die Hoërskool Garies, waar sowat 80% van die skool op 17 September afgebrand het, sê Monakali dat mobiele klaskamers ’n geruime tyd reeds in plek is en dat die aanbied van klasse terug na normaal is.

Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die departement, het vroeër bevestig die oorsaak van die brand was brandstigting en dat die die brand in drie afdelings van die skoolgebou begin het.

“Dit is vir die departement kommerwekkend dat ’n skool vernietig word deur dieselfde gemeenskap wat dit dien.”
Geoffrey van der Merwe (oor die onlangse brand by die Hoërskool Garies waar 80% van die skool vernietig is).

Kandidate het vanoggend met Engels (huistaal of eerste addisionele taal) hul eindeksamen begin.

Dinsdag is ekonomie vraestel 1 geskryf; Woensdag Afrikaans vraestel 1; Donderdag geskiedenis vraestel 1; en op Vrydag word vraestel 1 van wiskunde, wiskunde gelettertheid en tegniese wiskunde afgelê.

Intussen het die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, Sondag (30/10) op ’n mediakonferensie gesê dat die matriekklas van 2022 die grootste groep tot nog toe is om die matriekeindeksamen af te lê.

Oor die land heen skryf 923 460 kandidate hul matriekeindeksamen. Hiervan is 755 981 heeltydse kandidate en 167 479 deeltyds. Dit is 20 304 kandidate meer as verlede jaar.

Motshekga het ook beklemtoon dat die eksamens sal voortgaan, ongeag beurtkrag wat kan plaasvind.

  • Die matriekuitslae sal na verwagting op 19 Januarie bekend gemaak word.

Die eksamenlokaal by die Emmanuel Senior Secondary School in Homevale, Kimberley, is een van die grootste eksamenlokale in die provinsie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article