Gemiddeld elke vyf uur raak ’n kind in Suid-Afrika weg, en 23% van dié kinders word nooit gevind nie, of word dood aangetref, of beland in mensehandel.
Dit is aldus Missing Children South Africa, wat in ’n artikel deur Erika de Beer op Netwerk24 aangehaal word.
Ontvoerings waarin ’n losprys geëis word, het glo opmerklik in Suid-Afrika vermeerder. Sindikate is gewoonlik betrokke, en sakelui, ryk buitelanders en politici word veral geteiken. Sulke ontvoerings het meestal “ ’n einde” waar die ontvoerde aan sy of haar familie terugbesorg word.
Dan is daar ontvoerings of verdwynings van tienermeisies. Van hulle word opgespoor; dikwels by ’n “groot liefde” saam met wie hulle weggeloop het omdat hul tienerdrifte dit nie meer by die huis kon uithou nie, en omdat hulle geglo het dat die kêrel se brullende voertuig en blink donkerbril die wêreld ’n beter plek sou maak.
Maar dit is veral die ontvoering of onverklaarbare verdwyning van kleuters en jong kinders wat so geluidloos soos ’n vreemde voertuig met getinte vensters in woonbuurte inrol, wat ’n mens se bloed laat ys.
Sindikate wat in handel met minderjarige kinders spesialiseer, word geïmpliseer.
Ongeag hiervan word polisie-mediaverklarings weekliks ontvang oor alleenlopende kleuters wat verdwaald gevind is; en wat deur ’n weldoener by ’n naaste polisiekantoor afgelaai is.
In van die gevalle het die ouers nie eens geweet dat die kind weg is nie. Sulke ouers behoort van nalatigheid en kinderverwaarlosing aangekla te word; en ’n mens sou wens dat ’n voldoende sosio-maatskaplike stelsel in werking is om sulke huislike omstandighede te ondersoek of te monitor.
Wees waaksaam. Weet waar jou kind is. Waak teen vreemdes én bekendes se mooipraatjies.
Iewers in elke gemeenskap is iemand wat iets weet.
Praat. Roei die onheil uit en help om jou omgewing ’n veilige plek vir kinders te maak.


