Niemand nog in hegtenis ná rowers ‘miljoene’ op Vosburg-plaas buit

Foto ter illustrasie.

Foto: Argief

Niemand is nog aangekeer ná ’n gewapende rooftog drie weke gelede op ’n plaas buite Vosburg in die Noord-Kaap nie.

In die voorval is ’n bejaarde egpaar aangeval en die rowers is vort met ’n buit wat blykbaar miljoene rand werd is.

Dié aanval is in geheimhouding gehul.

Kapt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder, sê die voorval het omstreeks 21:00 op Maandag 7 November gebeur.

“Die gewapende mans het na bewering die egpaar oorval en geboei, en glo met die buit van ’n onbekende waarde gevlug,” sê hy.

Volgens ’n ingeligte kon die slagoffers hulself eers op 9 November bevry en hulp ontbied.

Die ingeligte beweer ’n vuurwapen, en goud en silwer van miljoene rande, is gebuit.

“Van die goedere was glo êrens op die plaas begrawe. Die slagoffers het ’n paar jaar gelede van die Wes-Kaap verhuis en die betrokke plaas op die grondpad tussen Vosburg en Carnarvon gehuur. Die aanvallers was glo deeglik vermom en het waarskynlik hul voertuie elders gelaat en die plaashuis te voet genader.

“Die manlike slagoffer is na buite nadat die kragtoevoer afgeskakel is. Hy is oorval en met ’n toestel geskok waarna hy en sy vrou vasgebind is.

“Na bewering is hul selfone en rekenaars ook vernietig,” sê die ingeligte.

Die slagoffers het hulself bevry en is na ’n buurplaas vir hulp.

Joe Scholtz, voorsitter van Agri Noord-Kaap se landelike veiligheidskomitee, sê hoewel dit nie ’n boer is wat op sy plaas aangeval is nie, het dit in ’n landelike omgewing gebeur.

“Dit is ’n bestiering dat niemand sy of haar lewe verloor het nie. Dit is nie goed dat dit in ons provinsie wat as redelik veilig beskou word, gebeur het nie.”

Tawana sê niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Enigeen met inligting kan die misdaadlyn op 086-00-10111 bel of dit op die My Saps-app deel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article