Aan die een kant is daar die angstigheid wanneer jy dit nie gebruik nie. Aan die ander kant is daar die pyn wanneer jy dit wel gebruik.
Foonskeidingsangs of nomofobie, teenoor teks-nek of “tech neck”.
Hierdie twee relatief nuwe begrippe verwys na toestande wat ’n mens se gesondheid benadeel, weens die teenwoordigheid van byvoorbeeld selfone.
Volgens Pharos Online is foonskeidingsangs die ongemak, kommer, vrees of angstigheid wat ’n mens ervaar wanneer jy nie jou selfoon by jou het nie; of wanneer jy nie selfoonopvangs het nie; of vir ’n lang tyd nie jou foon kan gebruik nie.
Volgens healthline.com is onsekerheid die hoofrede waarom mense foonskeidingsangs ontwikkel: Hulle raak afhanklik van ’n foon in die hand, en aan die moontlikheid daarvan om heeltyd indirek met iemand in kontak te wees. Vir sommige is ’n foon in die hand en oë op die skerm egter juis ’n manier om van direkte kontak weg te skram.
Teks-nek verwys na die ekstra spanning wat op ’n mens se nek en boonste deel van die ruggraat geplaas word met die langdurige gebruik van ’n selfoon (maar ook enige ander skerm).
Dit word deur ’n swak liggaamshouding veroorsaak, en het te doen met die hoek waarteen jou nek vooroor buig.
Die mees gewilde hoek waarteen ’n mens na ’n selfoon kyk, veroorsaak ’n ekstra gewig van tot 27 kg op die nek en ruggraat. Pleks daarvan dat ’n mens die foon boontoe hou om na die skerm te kyk, kyk ’n mens af in ’n geboë houding.
Dié liggaamshouding, is ook bevind, lei boonop daartoe dat ’n mens vroeg reeds ’n dubbelken ontwikkel. ’n Arm wat heeltyd gebuig is veroorsaak op sy beurt die verswakking van die senuwees van die voorarm na die hand. En die lys gaan aan.
Dit is dus amptelik: Tegnologie kan ’n pyn in die nek wees.




