Liefdadigheidsorganisasies van oor die Noord-Kaap en Vrystaat heen kan voordeel trek uit Sentraal24 en Volksblad se Kersfonds.
Geregistreerde welsynsorganisasies wat nog nie vanjaar aansoek gedoen het om ’n toekenning uit die fonds nie, kry van 15 Desember tot 15 Januarie ’n kans om dit te doen.
’n Anonieme skenking van R400 000, asook R20 000 van Kloppers, is van die welkome bydraes wat dié Kersfonds kort voor Kersfees ’n groot hupstoot gegee het.
Danksy dié bydraes, asook die algehele opbrengste van R48 144 van drie veilings wat vrywilligers saam met Bainsvlei-afslaers aangebied het, is die ingesamelde bedrag nou sowat R820 000.
Die fonds het vanjaar weer die vorige Kersfonds-naam (pleks van die Ons Gee Om-fonds) gebruik. Nog ’n verandering is dat Sentraal24 en sy vyf gemeenskapskoerante, NoordkaapBulletin, Bloemnuus, Express, Vista en VrystaatKroon, betrek is.
Die naamsverandering wys die betrokkenheid van dié gemeenskapskoerante en Volksblad in die gemeenskap om mense in nood te ondersteun.
Vanweë die veranderings, asook die afsterwe van Ria Kleingeld, jarelange sekretaresse by Engo en ’n Kersfonds-staatmaker, is uitbetalings nie soos gewoonlik in Julie gemaak nie. Engo gaan voort om die administrasie van dié fonds te behartig.
Rig navrae oor aansoeke per e-pos aan annemarie@engo.co.za en stuur die aansoekvorm wat dan verskaf word voor 15 Januarie terug.
Kerke, instellings en individue wat nog ’n bydra tot die fonds wil maak, kan dit by die volgende rekening doen: Volksblad Kersfonds, Nedbank, rekening 102 891 9980, takkode 117 134.
Stuur ’n bewys van betaling aan annemarie@engo.co.za.
Maatskappye wat vir ’n artikel 18A-sertifikaat vir ’n skenking wil aansoek doen, kan Anne-Marie Nel by dié e-posadres kontak.


