‘n Identikit van die verdagte, soos deur die polisie verskaf.


Die polisie in Kakamas benodig die publiek se hulp in die ondersoek van ’n poging tot ontvoering.

Kapt. Nelis Prins, kommunikasie-offisier van die polisie in Kakamas, sê vier jong kinders was op Woensdag 4 Januarie op pad vanaf Tierberg na die R.K. Mission Mills in die dorp.

Terwyl hulle nog op die grondpad gestap het, het ’n onbekende man hulle genader onder die voorwendsel dat hy iets van hulle benodig.

Die kinders het probeer om hom te ontwyk, maar die onbekende man het daarin geslaag om een van die kinders – ’n negejarige meisie – te gryp en tussen die wingerde in te sleep.

Die ander kinders het gaan hulp soek, en ’n egpaar wat in die omgewing bly, het hulle gehelp. Toe hulle op die toneel opdaag, het die verdagte te voet gevlug.

Volgens die ooggetuies se beskrywing is die verdagte tussen 20 en 30 jaar oud, ongeveer 1,7 m lank, van medium liggaamsbou, en sy een arm is in gips.

Enige persoon wat kan help om die identiteit van die verdagte vas te stel, kan die ondersoekbeamptes, sers. Derrick Dippenaar op 072-304-1149 bel, of vir kapt. Vrede Myburgh op 060-984-3529.

Alle inligting sal as vertroulik hanteer word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article