Die verhoor van die sewe beskuldigdes wat van die moord in 2018 op Piet Els, bekende sakeman van Kimberley en die gepaardgaande aanval op sy vriendin aangekla word, se verhoor is Maandag weens regstegniese probleme tot 13 Maart uitgestel.
Dit volg nadat een van die beskuldigdes in November beweer het sy mede-beskuldigdes het hom gedreig, waarna ’n ander een ook sy regsverteenwoordiger afgedank het. Die betrokke regsverteenwoordiger wat albei dié beskuldigdes en ’n derde verteenwoordig, het homself onttrek.
Die aangeklaagdes is Morapeli Rankali (28) en Motlalentwa Qhautse (37), van Lesotho, Lizbeth Ndlala (56) en haar man, Themba Lawrence Maja (68), Oupa Jeffrey Mahomane (44), almal van Pienaar in Mpumalanga, Samson Sam Mbokane (63) van Mbombela in Mpumalanga, en Jabulani Zuma (62) van Mtubatuba, KwaZulu-Natal.
Hulle staan tereg op aanklagte van onder meer huisbraak, aanranding, moord en twee aanklagte van die onwettige besit van ’n 7.65 mm-Walther-pistool en ’n .30-30-Winchester-geweer.
Els (86), bekende sakeman in diamantkringe, en sy vriendin Rikkie Alsemgeest, (toe 68) is op 24 Januarie 2018 deur vier mans in sy slaapkamer met ? strykyster gemartel en aangerand. Els is 111 dae ná die aanval op 24 Januarie 2018 in die hospitaal aan sy beserings oorlede. Alsemgeest het oorleef.
Mbokane het beweer hy is gedreig terwyl hy in sy verdediging getuig het. Daarna het Mahomane vir Renier Pieterse as sy regsverteenwoordiger afgedank. Pieterse het ook vir Ndlala verteenwoordig. Pieterse het onttrek.
Regter Lawrence Lever het toe gelas dat Regshulp Suid-Afrika drie ander verteenwoordigers aanstel en Maandag verslag lewer. Maandag het Heinrich Steynberg namens Regshulp SA bevestig dat ander regsverteenwoordigers aangestel is.
In nog ’n verrassende wending het hy gesê dat Chandre Booysen wat Zuma verteenwoordig, ook onttrek het omdat sy nie meer praktiseer nie. Dit was nuus vir Zuma, wat aangedui het hy sal sy eie privaat regsverteenwoordiger aanstel. Hy is in aanhouding en het versoek dat die polisie hom bank toe neem om geld vir die regsverteenwoordiger te trek.
Die saak is tot 13 Maart uitgestel sodat Zuma ’n regsverteenwoordiger kan aanstel.





