“Môre is dit darem Vrydag,” sê ek opgewonde.

Hy skud sy kop en glimlag.

“Wat verstaan jy nie? ’n Donderdag is die beste dag van die week, want dit is die verste van Maandag af.

“Vrydag is al te naby aan Maandag. In plaas daarvan om uit te sien na Vrydag, moet jy bly wees dis vandag Donderdag.”

Dit is my beurt om my kop te skud en te glimlag.

Daar steek seker op ’n vreemde manier waarheid in sy redenasie.

Tradisioneel sien die meeste mense op na Maandae en uit na Vrydae. Jou werksomstandighede en huislike omstandighede bepaal gewoonlik hierdie uitkyk.

As dit vir jou beter is by die werk, sien jy uit na Maandae.

As dit vir jou beter is by die huis, sien jy uit na Vrydae.

Dit wissel seker ook van tyd tot tyd namate omstandighede verander.

Ek hou van ’n Donderdag, maar ek twyfel of ek dit ooit as die beste dag van die week sal beskou.

Wie weet, dalk is ’n Dinsdag of ’n Saterdag vir jou die beste dag van die week.

Alles hang van omstandighede af.

Dalk is daar diegene wat glad nie ’n gunsteling-dag van die week beleef nie. Of diegene vir wie elke dag ’n gunsteling-dag is.

Afhangende van omstandighede hoop ek jy het darem iewers ’n gunsteling-dag van die week.

Of dit nou Maandag of Vrydag is, geniet jou gunsteling-weeksdag.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article