“Between the lines of this story, you will be taken to the time of simple life, simple people and the life of beautiful memories.” – Ali Nasser (Bu Mayed)
Dit kwetter en lag en huil tussen die asemteue deur.
Die een storie gee aanleiding tot die volgende. Die jongeres se ore is gespits, want hulle het net vae herinneringe, indien enige, van die ou verhale en staaltjies wat na bo uit die geheue van die oueres van dae borrel.
Dit is wanneer stoepsit op sy lekkerste is. Die stoom staan bokant die teekoppies en koffiebekers.
Die melktert bied mildelike happe, die suurlemoenkoek se versiersuiker smelt op die tong.
Ou verhale vloei oor die geselskap in die tuin.
Van hul oorlede ouers, susters, broer, aangetroude familie.
Wie wat vir wie op ’n sekere plek gesê het. Almal se manewales. Waar hulle oral gaan dans en piekniek gehou het.
Hoe hulle nog briewe geskryf en mekaar se telefoonnommers uit hul kop geken het.
Die lang, slap motors waarin hulle gepronk het. Hulle was die rockers, maar beslis nie “ducktails” of “sheilas” nie.
Hulle was jonk en verlief, die wêreld was ’n mooi plek, sonder die alomteenwoordigheid van die dood.
Hulle wat alleen oorgebly het, moet koue graniet besoek. Na die grafsteengeskrifte tussen die blare staar. Dit is wanneer hulle stil word. Of wanneer foto-albums uitgeruk word.
Swart-wit-foto’s van ’n lewe wat óf wit óf swart was.
Toe dit nie bevlek was met trane wat herinneringe in ’n waas vermeng nie.




