Die uniekheid van negatiewe emosies verskil soos die uniekheid van mense verskil.

Iemand sal ’n spesifieke negatiewe emosie as ongelooflik sleg ervaar, terwyl iemand anders dieselfde emosie as nie so sleg ervaar nie. Daar gaan waarskynlik ’n ander emosie wees wat laasgenoemde persoon as baie sleg ervaar.

Benewens spyt is teleurstelling ’n negatiewe emosie wat ek as besonder sleg ervaar. Veral as ’n mens meen dat jou verwagting nie onrealisties was nie.

Veronderstel ek hardloop my eerste halfmarathon en verwag ’n rekordtyd. Dan sou ek moes verstaan waarom ek teleurgesteld staan. My verwagting was onrealisties om mee te begin.

Dit is wanneer die verwagting amper ondergemiddeld realisties is dat hierdie negatiewe emosie soos ’n baie swaar klip in jou binneste gaan lê.

Wat as jou verwagting realisties is? Soos om van bogemiddelde mense ’n gemiddelde optrede te verwag en dan ondergemiddeld te kry.

Stap jy terug op jou eie voetspore om weer so ’n teleurstelling te probeer verhoed, kan jy nie werklik agterkom waar jy fouteer het nie. Moet ’n mens minder verwag; glad nie iets verwag nie? Hoe gaan dit werk?

Iewers moet ’n mens tog vertroue in die mensdom probeer hou. Iewers kruis iemand weer jou pad wat jou aangenaam verras en die teleurstelling verminder. Intussen moet jy die teleurstelling verwerk. Mense sien dinge verskillend; tree verskillend op.

Mag ons uit teleurstellings leer – terwyl ons steeds vertroue in die mensdom behou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article