’n Paar spoke is tydens die onlangse Kalahari-laer-Voortrekkerkamp, wat by die perdebaan in Kathu plaasgevind het, opgemerk.

Die kamp, in middel-Maart, is deur die Noord-Kaapse Voortrekker-komman­do’s van Kathu, Vryburg, Upington en Kimberley bygewoon.

Adri Kruger het die jeuglede oor Afrikaans geleer en die woord “brood” het tot nuutskep­pings aanleiding gegee. Ernalize du Toit het oor boeke gepraat, asook die waarde daarvan om in Afrikaans te lees. Oom Sarel von Wielligh, Springbok-toutrekker en jukskei­speler, het hulle in dié sportsoorte touwys gemaak.

Die spookmars was ’n treffer. Nadat elkeen in ’n “meelspook” verander het, moes hulle “erdwurms” – ook bekend as spaghetti – eet.

Die gr. 7-lede het die Afrikanerkind-spesialisasie onder leiding van kampleier Susan van der Berg ondergaan, en die gr. 6-lede die gedenkwaardighede-spesialisasie met projekleier Susan Huxham.

Die Kalahari-laer-kamp is een van drie kampe wat vanjaar vir gr. 7-jeuglede aangebied word. Kamp Meerkat en Kamp Voorslag sal later plaasvind, en alle gr. 7-Voortrekkers kan hieraan deelneem.

Enige lid van die jeug wat by Die Voortrek­kers betrokke wil raak, kan Vrydae om 16:00 op die Voortrekkerterrein in Haakdoringstraat in Kathu kom kuier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article