Die omstrede dr. Dion Theys is weer as die waarnemende departementshoof van die Noord-Kaapse departement van gesondheid aangestel terwyl hy steeds ’n aangeklaagde in ’n bedrogsaak is.
Die een saak teen Theys en Daniel Gaborone, finansiële hoof, oor die beweerde bedrieglike aankope van persoonlike beskermende toerusting (PPE) is teruggetrek hangende verdere ondersoek. Theys en Gaborone is vroeër weens die aanklagtes teen hulle geskors terwyl die departement pa gestaan het vir hul regskostes en hul salarisse betaal het.
Theys word egter in ’n afsonderlike saak ook aangekla, wat op 24 Mei in die spesiale handelsmisdaadhof voortgesit word. Hy het na bewering twyfelagtige huurooreenkomste vir studenteverblyf van R96 miljoen aangegaan. Hy word aangekla dat hy tussen 2010 en 2012 as die rekenpligtige amptenaar die betrokke wetgewing oortree het toe drie huurooreenkomste vir studenteverblyf aangegaan is. Hy moet volgende maand sy getuienis voorlê, indien enige, nadat die staat sy saak gesluit het.
Die staat voer aan die rekenpligtige beampte moet verseker dat die departement ’n toepaslike verkryging- en voorsieningbeleid handhaaf wat regverdig, billik, deursigtig, mededingend en kostedoeltreffend is. Die persoon het die plig om ongemagtigde, onreëlmatige en/of vrugtelose en verkwistende uitgawes te voorkom.
Riaan Strydom, vorige waarnemende departementshoof, het op 13 Januarie vanjaar in ’n omsendbrief aan personeel geskryf dat Theys en Gaborone sedert die begin van Januarie “terug is” by die departement. Gaborone is terug in sy vorige pos, terwyl Theys ’n “provinsiale mediese direkteur” is.
Die ouditeur-generaal (OG) wys in sy ouditverslag vir die 2021-’22 boekjaar onder meer uit dat daadwerklike stappe nie gedoen is om onreëlmatige en vrugtelose uitgawes te voorkom, belastingbetalers se geld met die toestemming van die rekenpligtige amptenaar bestee is of dat krediteure ingevolge tesourie-vereistes binne 30 dae betaal is nie.
Die OG kon geen ouditbewyse vind dat tugstappe teen amptenare gedoen is wat ongemagtigde, onreëlmatige of vrugtelose en vermorste uitgawes aangegaan het nie omdat geen interne ondersoeke gedoen is nie.
Die DA versoek die premier, dr. Zamani Saul, om die heraanstelling van Theys te verduidelik.
Harold McGluwa, Noord-Kaapse DA-leier, sê die departement sit sedert Julie 2020 sonder ’n permanente departementshoof.
“Die DA het die afgelope paar jaar deurgaans die kantoor van die premier uitgevra oor die uitgerekte vertraging om ’n permanente hoof aan te stel. Verlede jaar is ons meegedeel dat ’n advertensie in Junie geplaas is. Die beloofde tydraamwerke vir die aanstelling sou aan die komitee verskaf word, wat nooit gedoen is nie.
“Op 24 Maart vanjaar is ons gesê ’n aanstelling sou binne twee weke gedoen word. Ons is erg teleurgesteld dat ongeag dié belofte aan die wetgewer se portefeuljekomitee, dit nie gedoen is nie.”
Hy is skepties oor die heraanstelling van Theys.
“Terwyl sommige aanklagte teruggetrek is en hy nie skuldig bevind is nie, is hy in sy vorige ampstermyn twee keer in ses maande in hegtenis geneem. Daar is ’n donker wolk wat oor sy kop hang, gegewe die omvang van korrupsie binne die departement. Sy aanstelling wek beslis nie vertroue in die regering se vermoë om die sukkelende gesondheidsdepartement reg te ruk nie. “
Die party is agterdogtig oor die tydsberekening van sy heraanstelling. McGluwa sê dit kom te midde van sy skorsing wat vroeër opgehef is.
“Dit is asof Saul doelbewus die aanstelling uitgestel het sodat hy kon terugkeer.
“Die departement is in ’n afwaartse spiraal. Selfs die parlementêre oorsigkomitee wat die provinsie onlangs besoek het, het ernstige kommer uitgespreek oor die departement. Die premier is deeglik bewus hiervan.
“Dit benodig ’n permanente hoof met onbetwisbare integriteit en ’n bewese vermoë om die departement uit sy verbrokkelde toestand te red. Die departement benodig nie ’n twyfelagtige waarnemende aanstelling wat verdere verswakking kan meebring nie.”
Lebogang Majaha, departementele woordvoerder, sê die premier hanteer aanstellings van departementshoofde.
“Theys was geskors weens die aanklagte oor PPE-aankope. Die saak teen hom is egter teruggetrek en sy betrokke skorsing opgehef.
“Dr. Theys is ’n ervare gesondheidswerker. Sy aanstelling sal stabiliteit meebring en dienslewering verbeter. Ons verwelkom sy aanstelling en het vertroue in sy leierskap.”





