Petro Louw, wat ’n operasie in die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal moes ondergaan, moes drie aande op ’n stoel in die hospitaal se gange slaap voordat ’n bed aan haar toegeken is.

Foto: Verskaf

’n Vrou van Postmasburg wat sedert 2019 wag om ’n operasie te ondergaan, is Donderdag (20/04) ná ’n lang wag by die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal in Kimberley huis toe gestuur sonder dat die prosedure uitgevoer is.

Petro Louw, wat al sedert 2019 vir ’n bilaterale mastektomie wag weens ’n toestand bekend as gigantomastia, het van skok inmekaargesak toe sy hoor die prosedure gaan nie meer uitgevoer word nie. Die prosedure sou Woensdag uitgevoer word, maar sy is Donderdag huis toe gestuur.

Toe sy tot nommer 11 op die waglys gevorder het, was sy hoopvol dat haar lyding iets van die verlede sou wees. Haar toestand maak haar kwesbaar vir infeksies. Die mastektomie is die voorloper vir nog ’n operasie wat sy moet ondergaan wat verband hou met rug- en nekprobleme wat saam met die gigantomastia gediagnoseer is. Sy is nommer 300 op die waglys vir neurochirurgie.

Louw moes op 14 April by die hospitaal aanmeld vir opname en voor-operatiewe bloedtoetse. Daar was geen bed vir haar beskikbaar nie en sy moes op ’n stoel in die gange van die chirurgiese waarnemings­eenheid slaap. Sy het van die Vrydagaand tot Maandagmiddag “in die gang gewoon” totdat ’n bed uiteindelik aan haar toegeken is.

“Die badkamergeriewe was verskriklik vuil en daar was reuse-kokkerotte.”

Sy is ook van amper al haar besittings besteel terwyl sy geslaap het. Van die kos wat vir haar geneem is, is ook gesteel.

“My man het van Postmasburg gekom sodat hy my besittings in die motor kon toesluit. Hy het in die kar geslaap.” Sy sê sy was die heeltyd oor hom bekommerd.

Nadat sy vanaf Dinsdag om 22:00 ter voorbereiding vir die operasie niks geëet of gedrink het nie, was sy sonder kos en vloeistof totdat sy Donderdagoggend meegedeel is dat die operasie herskeduleer word weens te min teaterpersoneel.

Louw sê sy is verpletter. Sy kan nie meer die daaglikse pyn, gejeuk en ongemak verduur nie. Sy kan nie bekostig om self vir die prosedure van honderdduisende rand te betaal nie. Sy het vandeesweek ’n brief ontvang dat die hospitaal haar nou na die Universitas-hospitaal in Bloemfontein wil stuur om die operasie te ondergaan, maar ’n datum is nog nie gegee nie.

Die gesin sal ook weer verdere finansiële koste moet aangaan.

Delmaine Christians, DA-lid van die Nasionale Raad van Provinsies, sê dit is nie ’n geïsoleerde geval nie.

“Die groeiende chirurgie-agterstand by die hospitaal het ’n verwoestende impak op die pasiënte en hul gesinne.”

Sy sê die kollig is op die swak pasiëntbestuur en onveilige toestande in die Noord-Kaap se enigste tersiêre hospitaal. Christians het ’n formele klagte by Maruping Lekwene, LUR vir gesondheid, ingedien en vrae aan die minister van gesondheid gestuur.

“Ek wil weet hoekom, ondanks die enorme chirurgie-agterstand in die provinsie, meer teaterpersoneel steeds nie aangestel is nie en slegs vier van die nege teaters by die hospitaal gebruik word.”

Sy wil ook weet hoekom, ongeag daarvan dat die departement ’n private agentskap betaal het om die chirurgie-agterstande aan te pak, die teikens nie bereik is nie.

“Ons moet verstaan hoekom pasiënte geskeduleer word wanneer beddens nie beskikbaar is nie, hoekom daar swak sekuriteit in en om die hospitaal is en hoekom die hospitaal vuil en vol kokkerotte is.”

Die Noord-Kaapse departement van gesondheid het teen die koerant se druktyd nog nie op navrae gereageer nie. – Anena Burger

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article