Nooit sou ’n seun van Upington, Danie Marais, kon dink sy selfportret as ’n koerantleser wat hy sowat 20 jaar gelede as studie-opdrag geskilder het, sou sulke wye draaie loop nie.
Die skildery was in 2004 Volksblad in Bloemfontein, die oudste Afrikaanse koerant, se jubileumgeskenk van sy eienaar, toe nog Nasionale Pers.
Nou is dit die voorblad van ’n nuwe boek oor die koerantwese, Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord – ‘n Joernaal van scoops en skandes, deur Hennie van Deventer (82).
Die boek van Van Deventer, oud-redakteur en hoof van koerante van Naspers, het pas by Naledi verskyn.
Marais, ’n oudleerling aan die Hoërskool Duineveld in Upington, is nou ’n gevestigde kunstenaar van Langebaan.
Aan die einde van sy tweede jaar as Bloemfonteinse B. Tech-student in beeldende kunste aan die destydse Vrystaatse Technikon – nou die Sentrale Universiteit van Tegnologie – was ’n opdrag om ’n selfportret te skilder wat iets van die kunstenaar verklap.
Vir Marais het ’n koerant altyd visuele trefkrag gehad en hy het homself skuins agter ’n Volksblad geskilder waarin hy oor homself lees.
Die opskrif, “DM vat hande teen rassisme”, slaan op ’n gemeenskaplike inisiatief om rasseskanse af te breek. Die DM in die opskrif verwys na Marais se naam en van.
Die voorbladfoto op sy verbeelde koerant is van ’n werklike gebeurtenis in New York waarvan die koerantfoto’s hom aangegryp het.
Dit handel oor ’n valskerm wat in Augustus 2001 sambreel maak oor die Statue of Liberty by New York nadat die toue van ’n Franse valskerm-swewer se tuig aan die fakkel verstrik geraak het. Marais het die YouTube-video daarvan permanent op sy selfoon.
Wyle Andy Galloway, ’n redaksielid van Volksblad, het van Marais se skildery te hore gekom.
Nasionale Pers het dit vir R7 500 – destyds baie sakgeld vir ’n student – gekoop. Op ’n dinee ter ere van Volksblad se eeufeesviering, is die skildery deur Ton Vosloo, voorsitter van die direksie, aan die koerant oorhandig.
Op soek na ’n voorblad vir sy nuutste boek het Van Deventer van die skildery onthou. Marais is genader en was dadelik vuur en vlam.
Van Deventer se boek verklap geheime uit redakteurskantore en raadsale. Daar is ook humor, politiek en lig op persoonlikhede: Nie net huishoudelike name in die media nie, maar letterkunde-geeste soos C.J. Langenhoven, N.P. van Wyk Louw en D.J. Opperman, politici soos H.F. Verwoerd en B.J. Vorster, skoonhede soos prinses Diana en Anneline Kriel en selfs die destydse ontkleedanseres Glenda Kemp.
Die boek is by boekwinkels of kan ook direk by naledi.co.za bestel word.





