Hettie du Plessis-Krüger (links, voorsitter ATKV Kalahari-tak) en Maryke Strydom (plaaslike organiseerder en lid van VLV Kuruman-tak) spog met geskenkte wol, gehekelde blokkies en geskenksakkies van die ATKV-tak Arendsnes.

Foto: Verskaf

Die takke van die ATKV Kalahari en die VLV Kuruman het hande gevat om tydens die afgelope naweek aan ’n hekelmarathon, wat oor die land heen plaasgevind het, deel te neem.

Die marathon het Vrydag (26/05) om 12:00 begin en tot Saterdag (27/05) om 18:00 geduur.

Deelname hieraan was ook deel van die VLV-Sirkel Kalahari se projek, met die tema “Gee dit wat in jou hand is om te gee.”

Die Vryburg VLV-tak, wat saam met die Kuruman-tak in die Kalahari Sirkel val, het 1 188 blokkies ingesamel en 27 komberse gemaak om plaaslik te versprei.

Oor die land heen is meer as 70 800 gehekelde blokke van 20 cm x 20 cm ingesamel. Dit word gebruik om komberse vir behoeftiges te maak. Die meeste van hierdie blokke is tydens die marathon van 30 uur gehekel.

Die projek is aanvanklik deur die ATKV-tak Arendsnes van stapel gestuur en organiseer as deel van die Maak ’n verskil-projek.

Die ATKV Kalahari-tak en die VLV Kuruman-tak beplan reeds aan 2024 se hekelmarathon wat op Vrydag 19 April en Saterdag 20 April sal plaasvind.

Die uitdaging word gestel om nou reeds te begin en solank elke dag een blokkie vir 2024 se hekelmarathon te maak.

Kontak een van die takke om by die WhatsApp-groep aan te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article