Baai Strauss (81), wat as een van Upington se knapste onderwysers beskryf word, is onlangs ná ’n operasie in ’n hospitaal in die Wes-Kaap oorlede.
Peter Melchoir Strauss se bydrae tot die gemeenskap is onuitwisbaar, sê Rudolph (Bokkie) Saal.
Strauss was een van die gemeenskapsleiers wat baie gedoen het in die opvoeding van menige skoolkind in Upington en nabye omgewing, sê Saal.
Oom Baai, soos wat Strauss deur baie mense genoem is, is op 7 September 1941 op Vaalkoppies gebore. Hy was een van 11 kinders in die gesin.
Hy het hom ná matriek as onderwyser aan die destydse Opleidingskollege Suid-Kaap in Oudtshoorn bekwaam, en later ’n derdejaar se opleiding by die Perseverance-kollege in Kimberley voltooi.
In ’n veelbesproke huweliksbevestiging is oom Baai op 28 Desember 1972 met Carol Mouton getroud. Die paartjie is in Oudtshoorn getroud omdat Carol se pa nie ten gunste van hul huwelik was nie. Daar is na hulle verwys as die paartjie wat uit Upington weggehardloop het om in Oudtshoorn te gaan trou sonder toestemming.
Strauss se eerste onderwyservaring is in Vanrhynsdorp opgedoen, en later was hy ook onderwyser en skoolhoof aan onder meer Vooruitsig Primêr, Boplaas, Kameelmond en Blaauwskop, waar hy ’n groot indruk op sy leerlinge en ander onderwysers gelaat het.
Ná 35 jaar in diens van die onderwys het oom Baai halt geroep.
Die egpaar was ’n gewilde en blymoedige paartjie in die gemeenskap, en het gereeld saam toere deur die land – en ook in die buiteland – onderneem.
Hulle het twee seuns, Nolan en Ruaan. Hul enigste dogter, Liesl, is in 1997 in ’n ongeluk oorlede.
Saal sê dat Strauss se heengaan ’n groot leemte in die pensioenorganisasie, die Upington-belastingbetalersvereniging, sy gesin, familie, vriendekring en kerk los.
“Sy nederigheid, kwinkslae en medemenslikheid sal ons altyd onthou. Waarlik ’n netjiese en ordentlike mens het ons verlaat,” sê Saal.
Strauss se begrafnisdiens het op 8 Julie in die Congregational-kerk in Upington plaasgevind.
Hy laat sy vrou, twee seuns, twee skoondogters en ses kleinkinders agter.





