’n Ondersoek is aangevra na vermiste titelaktes wat vir tot 20 jaar van inwoners in die Gamagara-munisipaliteitsgebied weerhou is – 29 van die begunstigdes is reeds oorlede.
Só sê Henriëtte du Plessis, DA-burgemeester, in ’n verklaring. Du Plessis, wat in Mei aangestel is, sê sy is ingelig dat sowat 300 titelaktes nog nie uitgedeel is nie. Die laaste verspreiding hiervan is kort voor die 2021-plaaslike verkiesings gedoen.
“Ek is van slegs 49 titelaktes voorsien. In Deben was ’n lys van meer as 200 begunstigdes vir titelaktes op die Gamagara-gemeenskapsaal se muur geplak.
“Ek wil weet wie die lys opgeplak het, waar die titelaktes is en hoekom dit weerhou word.”
Sewe titelaktes is in Olifantshoek uitgedeel, tien in Mapoteng en vier in Deben. Een begunstigde wag sedert 1999, nog een sedert 2004.
“Dit is duidelik dat die ANC politiek speel met titelaktes deur die uitdeel te manipuleer vir politieke punte,” sê Du Plessis.




