“Pik, pik, pe-kêk, pik pe-kêk . . . ek het gelê, ek het ’n eier gelê,” verkondig die hoenderhen luidrugtig haar prestasie op die plaaswerf. Nogal in Afrikaans, as jy vier jaar oud is en, soos jou Pa verduidelik, mooi na haar luister.

Waaroor sy so tekere gaan, weet nugter alleen, want sy maak dalk slapende honde wakker.

Lesersbrief

Foto ter illustrasie

Dié hoendergedrag laat my dink aan sommige van die kommentare en menings onderaan party berigte (in digitale formaat). Elke Jan Rap en sy maat wil mos deesdae oor alles en almal ’n eier lê.

Verskoon, ek het 60 tot 70 jaar gelede grootgeword toe ’n mens nie ’n mening gegun is nie. Iets soos “hou jou bek en sit op jou plek,” of “ons sal vir jou vertel wat jou opinie moet wees,” was die norm.

Vandag werk dit nie meer so nie. Sarkasme, snedigheid, rassistiese ondertone, beledigings en beterweterigheid, om maar ’n paar van die onsmaaklike opmerkings te noem, is nou aan die orde van die dag. Verstommend. Soms wonder ’n mens of van die kommentare nie dalk eerder iets meer sê oor die kommentator self nie.

Dan is daar nog, tong-in-die-kies gesproke, die brommer-kommentators en die heuningby-kommentators.

Die brommers haak vas by ’n stink ding in die verlede en kan net eenvoudig nie vorentoe beweeg nie. Jan van Riebeeck, Piet Retief, Apartheid, die Ja-stemmers (“ons het julle mos gesê,” en die ou afgesaagde “ons het die land op ’n skinkbord. . .”), Eskom, SAL, asook Roelf, FW, Theuns, Johan . . . is maar enkele voorbeelde. Hierdie kommentators lewer gewoonlik self geen sinvolle bydrae om ’n beter toekoms te help skep nie.

Die heuningbye zoem vandag oor die mooiste blomme. Hulle maak van vandag die beste herinnering wat hulle kan en werk onverpoosd daaraan om ’n lekker en aangename toekoms te bereik.

Dit is natuurlik elkeen se reg om in onkunde sy naam met ’n plank te slaan of om hom soos ’n insek of ’n nar te gedra. Ons moet net min of meer binne die reëls van die nuuskanaal bly. Daarom wil ek ook graag bybly by veranderende tye en in die hedendaagse styl ongevraagd ’n eier lê. Pik pik pe-kêk.

Dries van Schalkwyk,

Jagersfontein

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article