Deesdae stap die gemiddelde verbruiker met meer geld by ’n kruidenierswarewinkel in en met minder produkte daaruit.
Die probleem is nie dat pryse die afgelope tyd geweldig die hoogte ingeskiet het nie.
Die probleem is dat dieselfde produk op dieselfde rak by dieselfde winkel feitlik elke keer wanneer jy dit gaan koop, opmerklik duurder is.
Waar gaan dit eindig?
Wanneer brandstofpryse styg, styg die prys van kruideniersware feitlik oornag. Dit word gewoonlik aan die verhoging in vervoerkoste toegeskryf.
Maar wanneer brandstofpryse daal, is daar geen afname in die prys van kruideniersware nie.
Deesdae voel dit asof daar nie soveel brandstofverhogings is om die prys van kruideniersware te regverdig nie. Veral nie as die pryse byna weekliks of maandeliks verhoog word nie.
Waar die gemiddelde verbruiker ’n jaar of twee gelede feitlik outomaties ’n groter verpakking gekies het omdat dit altyd goedkoper uitgewerk het, moet jy nou katvoet wees vir groter verpakkings wat jou inderdaad duurder uitwerk.
’n Mens kan verstaan dat dinge nog aan die herstel is ná grendeltyd. Maar hoe gaan die gemiddelde verbruiker oorleef wanneer sy salaris dalk jaarliks effens aangepas word?
Ons leef in ’n uitdagende tyd.
Oor ’n paar dekades van nou af gaan vandag se pryse dalk spotgoedkoop voorkom.
Deesdae stap die gemiddelde verbruiker met nog meer geld by ’n kruidenierswarewinkel in en met nog minder produkte daaruit.



