The My Story Tribe: Kinders leer eie identiteit; eie storie deur joernale

Deur die The My Story Tribe-joernale word laerskoolleerlinge gehelp en geleer om hoe hul emosies uit te druk.

Foto: Verskaf

Hoe om jou unieke identiteit te help vestig deur jou eie storie waarin jy die hoofkarakter is, is waaroor die stigter van The My Story Tribe eersdaags met laerskoolleerlinge in Kimberley gaan gesels.

Milan Murray, ’n Suid-Afrikaanse aktrise, is onder meer bekend as ’n sepiester, televisie-aanbieder, verhoogpersoonlikheid en kinderboekskrywer.

Milan Murray, onder meer aktrise, kinderboekskrywer en stigter van The My Story Tribe, gesels op Vrydag 15 September tydens verskillende sessies met laerskoolleerlinge in Kimberley.

Sy is ook die stigter van The My Story Tribe, en op Vrydag 15 September is sy by die Laerskool Newton in Kimberley waar sy in verskillende sessies met leerlinge van dié skool, en ook van ander skole, gesels.

“Ek gaan met die kinders gesels oor wat dit beteken om eienaarskap van jou eie storie te neem.”

Murray vertel sielkundiges, arbeidsterapeute en opvoeders is by The My Story Tribe betrokke wat kinders help om in hul eie storie gegrond te wees.

Deur die The My Story Tribe-joernale word laerskoolleerlinge gehelp en geleer om hoe hul emosies uit te druk.
“Dit gaan oor selfbeeld, om resilient te wees, om op te staan as jy geval het.”
Milan Murray, oor The My Story Tribe

Joernale wat in Afrikaans en Engels beskikbaar is, is so ontwikkel dat wanneer ’n kind daardeur werk, dit met die skep van selfidentiteit, asook persoonlike ontwikkeling en groei help.

Die joernale word doelbewus nie gedigitaliseer nie, en met ’n pen in die hand word kinders bemagtig om die hoofkarakter is sy of haar eie storie te wees.

Dit bestaan egter nie uit intimiderende oop bladsye nie, maar verskeie aktiwiteite wat op ’n skeppende manier aangebied is.

Die groen joernaal is vir ses- tot tienjariges, en die geel joernaal vir tien- tot 13-jariges ontwikkel. ’n Kunsjoernaal, vir leerlinge wat nie noodwendig woorde wil gebruik om hulself uit te druk nie, is ook beskikbaar.

’n Deurhanger met vyf verskillende emosies in die draaiskryf is deel van The My Story Tribe-produkte.

“Hierdie unieke joernale gee ’n stem aan die individu. Dit ontmoet die kind waar hy of sy tans in hul storie staan, en ontwikkel daardie storie deur spel en refleksie na ’n storie van ware identiteit,” skryf Mariaan Prins, ’n sielkundige, oor The My Story Tribe.

Dr. Truida Botha, ook ’n sielkundige, sê The My Story Tribe en die joernale is ’n besondere skeppende middel om selfontdekking te ondersteun, en om vertroue in jou eie storie vas te sement.

Laerskoolkind het baie uitdagings

Murray vertel in vroeë mediaonderhoude dat die fokus geweldig baie op vroeëkinderontwikkeling is.

“Maar dan laai ons hulle op sesjarige ouderdom by die skool af, en vergeet van die emosionele ontwikkeling wat dan moet plaasvind.

Met haar kinders in die laerskool het Murray bewus geword deur hoeveel laerskoolkinders moet gaan, en hoeveel met so ’n kind gebeur waarby hy of sy moet aanpas.

“ ’n Kind word dalk nie vir ’n span gekies nie; is meteens nie meer deel van ’n spesifieke groep nie; punte is nie goed nie; die ouers skei; of die gesin, of iemand na aan die gesin immigreer; daar is so baie uitdagings,” sê Murray, en vertel dat sy in haar laerskooldae nie ’n groep gehad het om by te sit nie.

In die joernale kan laerskoolleerlinge skeppend met hul emosies omgaan, en in die proses ’n eie identiteit help vestig.

Toe haar kinders laerskool toe gegaan het, het sy na ’n hulpmiddel gesoek om hulle te help om oor hul eie storie na te dink en dit en ’n eie identiteit te vind.

Omdat sy nie ’n intimiderende leë bladsy wou gee nie, het die joernale tot stand gekom waar kinders met behulp van verskillende aktwiteite hulself kan uitdruk.

“Selfs die oefening om jou handtekening te oefen, het waarde,” vertel sy.

Die joernale van The My Story Tribe is ’n besondere skeppende middel om selfontdekking te ondersteun en vir ’n kind om vertroue in sy eie storie vas te sement, sê dr. Truida Botha, sielkundige.

Deur dié joernale kon Murray haar liefde vir kinders en haar skryfvaardighede kombineer.

Deel van die The My Story Tribe is onder meer ’n deurhanger met ’n draaiskyf waarop vyf emosies is. Die kind kan die deurhanger aan die buitekant van sy kamerdeur hang om vir die res van die gesin te vertel hoe hy of sy voel, en ook die rede vir die toe deur.

Verskilende joernale vir verskillende ouderdomsgroepe in die laerskool bestaan in The My Story Tribe-reeks. ’n Kunsjoernaal is ook beskikbaar.

The My Story Tribe-joernale word doelbewus nie gedigitaliseer nie.

Raak betrokke by dié “tribe”

Op Vrydag 15 September, tydens verskillende sessies, praat Murray met laerskoolleerlinge in die WAS Basson-saal by die Laerskool Newton in Kimberley.

  • Van 11:00 tot 12:00 praat sy met die gr. 1- tot gr. 3-leerlinge van Laerskool Newton.
  • Van 14:40 tot 15:30 gesels Murray met die gr. 4- tot gr. 7-leerlinge, asook met laerskoolleerlinge van ander skole.
  • Die koste is R250 per leerling, en dit sluit die joernale van The My Story Tribe in.
  • Vir meer inligting hieroor, bel Daleen Hugo by die skool by 053-831-1705 of by 084-207-0587.
  • Besoek ook themystorytribe.com vir meer inligting.

’n Sielkundige, Mariaan Prins, skryf oor The My Story Tribe-joernale dat dit ’n stem aan ’n individu gee. “Dit ontmoet die kind waar hy of sy tans in hulle storie is, en ontwikkel daardie storie deur spel en refleksie na ’n storie van eie identiteit”.

‘Wat sal die mense sê?’

Op Saterdag 16 September om 10:00 kry vroue ’n beurt wanneer Murray vertel van “Laat jou onderrok uithang”.

Dié praatjie, met die gelyknamige titel, is ’n ligte tong-in-die-kies motivering wat die gedagte aanspreek van “wat sal die mense sê,” vertel Murray.

“Dit is ’n uitdaging aan die gehoor om die grenslyne te toets. Ons leef so streng binne die lyne omdat ons altyd bang is wat die mense sal sê. Dus, ons laat nooit ons onderrok uithang nie.

“Ek het grootgeword met dié uitdrukking, en in my praatjie gooi ek dit op sy kop en daag die gehoor uit.

“Ek spot met my eie opvoeding en vertel staaltjies uit my lewe – op só ’n manier dat die gehoor hulle met die tema vereenselwig en lig van die oggendtee wegstap.”

Milan Murray vertel op Saterdag 16 September vir vroue hoe om weg te breek van “wat sal die mense sê” deur haar praatjie getiteld “Laat jou onderrok uithang”.

Tydens dié bederfoggend wat in die Bakenskop-tuin by 29A Rhodeslaan in Carters Glen plaasvind, sal talle stalletjies ook unieke produkte te koop aanbied.

  • Die vroueoggend is die ideale geleentheid vir ondernemings om die vroue in hul diens te trakteer.
  • Kaartjies kos R300 per persoon en sluit ’n ligte ete in.
  • Koop kaartjies teen 10 September deur Marlize Theron by 082-721-3172 te bel.

NoordkaapBulletin is die gedruktemediaborg van albei geleenthede.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article