Die gesloer van owerhede rondom ’n babadogtertjie wat Woensdagmiddag 6 September uit die K3-saal van die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal (RMSH) in Kimberley gesteel is, word hewig kritiseer.
Teen Donderdag laatmiddag het die polisie ’n verklaring uitgereik waarin die publiek se hulp gevra word om dié babadogtertjie op te spoor, en teen Donderdagaand het die provinsiale departement van gesondheid bevestig dat ’n saak van ’n vermiste baba by die polisie aanhangig gemaak is.
Toe die 26-jarige Natasha Japhta en haar pasgebore dogtertjie, wat sy Lezaane noem, op Saterdag 2 September per lugambulans vanaf De Aar na Kimberley vervoer is, het sy allermins gedink dat die hospitaal-owerhede haar sonder haar kind sou ontslaan.
Japhta vertel dat Lezaane Saterdag gebore is, maar weens probleme met haar longetjies is hulle dringend vanaf De Aar na die RMSH se neonatale hoësorgeenheid gestuur.
Teen Woensdag was daar soveel verbetering by Lezaane dat besluit is om hulle huis toe te stuur.
Verdagte vrou opgemerk
Volgens Japhta was sy dié dag omstreeks 16:00 met die laaste administrasie van ontslag besig. Sy het in die saal bevestig dat sy gou vir Lezaane in haar kot los, maar toe sy terugkom, was net die kombersies daar.
Japhta sê hoewel sy onmiddellik bekommerd was, het sy onthou dat Lezaane vroeër die week ook nie in haar kot was toe sy die saal ’n oomblik moes verlaat nie. Lezaane is toe egter deur een van die verpleegpersoneel na ’n ander deel van die saal vir bloedtoetse geneem.
Sy het dadelik navraag begin doen, en toe ’n suster vir haar sê: “Maar ek dog sy is by jou,” het Japhta dadelik geweet daar is fout.
’n Verdagte vrou, wat sy telkens oor ’n tydperk by die saal opgemerk het, het onmiddellik in haar gedagtes gekom.
Dié vrou het glo gereeld in die wagarea voor die K3-saal gesit, met ’n pienk kamerjas aan en ’n doek oor haar gesig. Japhta het die vrou nooit hoor praat nie, maar volgens haar het die vrou ’n “gelerige” gelaatskleur.
Dié vrou het ook geen baba gehad wat in die saal opgeneem is nie, en daar word beweer dat sy ‘n miskraam gehad het.
Ná Lezaane se verdwyning is die pienk kamerjas glo onder een van die masjiene aan die voorpunt van die saal gevind.
Steeds is daar nie onmiddellik alarm gemaak of is Japhta se familie gekontak om haar te ondersteun nie. Japhta vertel sy moes iemand se selfoon leen om haar familie in De Aar te bel.
“Hier is geen sekuriteit nie,” sê Herbert Japhta, ’n oom van haar. Hy sê teen Woensdag wou die hospitaalbestuur ’n vergadering oor die voorval hou, terwyl geen daadwerklike aksie uitgevoer is nie.
Die verdwyning van die babadogtertjie het saamgeval met die staking van sekuriteitspersoneel by die hospitaal, en dit word beweer dat die sekuriteitskameras ook nie werk nie. Volgens Japhta se oom kon die dogtertjie dalk al gevind gewees het indien alarm vroeër gemaak is.
“Happiness is nou sadness,” sê hy. “ ’n Groot groep mense is hierdeur geraak.”
Pienk kruippakkie
Lezaane, wat teen Woensdag 2,9 kg geweeg het, het met haar verdwyning ’n pienk kruippakkie aangepak, en ’n gebreide mussie met ’n perskepienk-en-wit kleur.
Onder die pienk kruippakkie het sy ook ’n pienk reklangbroekie aangehad.
Haar haartjies is aan weerskante van haar kop geskeer vir die drup waaraan sy gekoppel was, en haar handjies het ook blou merke van die drup, sê Japhta.
Volgens Japhta se oom het sy aanvanklik weinig emosionele ondersteuning van die hospitaal gekry. Woensdagaand wou hulle haar slegs “iets gee om te slaap,” en teen Donderdag het hulle gesê sy kan maar huis toe gaan.
“Hoe moet ek huis toe gaan sonder my kind?” vra Japhta.
Die Noord-Kaapse departement van gesondheid het Donderdagaand bevestig dat ’n saak van ’n vermiste baba by die polisie gelê is.
“Die saak word ondersoek en die polisie hou die hoofuitvoerende beampte op hoogte van die ontwikkeling,” sê Lulu Mxekezo, departementswoordvoerder.
Die departement sê voorts weens die sensitiwiteit en vertroulikheid van die saak word geen meer inligting op die stadium beskikbaar gestel nie.
“Die veiligheid van alle pasiënte en gesondheidspersoneel is ’n saak van voorkeur vir die departement van gesondheid,” lui die verklaring.
Lt. kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings die saak ondersoek, en dat hulle die publiek se hulp benodig om haar op te spoor.
- Enige persoon met inligting kan vir speursers. Nomondo Mothelesi by 068-772-9176 bel, ’n anonieme SMS na 32211 stuur of die MySaps App gebruik.
- Kock sê alle inligting wat verskaf word, sal as vertroulik hanteer word. Die ondersoek duur voort.





