Die polisie het Vrydagoggend 8 September omstreeks 09:00 ’n 21-jarige vrou van Greenpoint in Kimberley vir die diefstal van ’n babadogtertjie uit die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal (RMSH) in Kimberley in hegtenis geneem.
Volgens lt. kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, is die babadogtertjie wat Woensdag 6 September uit die K3-saal van die RMSH gesteel is, ongedeerd in die verdagte se huis gevind.
Die inhegtenisname is deur lede van die Kimberley eenheid vir gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele oortredings, in samewerking met lede van die misdaadintelligensie-eenheid gedoen.
Kock sê hulle het inligting opgevolg, en die baba met haar klere by die verdagte gevind.
Die inhegtenisname volg nadat die babadogtertjie Woensdagmiddag uit die K3-saal van die RMSH gesteel is.
Toe die 26-jarige Natasha Japhta en haar pasgebore dogtertjie, wat sy Lezaane noem, op Saterdag 2 September per lugambulans vanaf De Aar na Kimberley vervoer is, het sy allermins gedink dat die hospitaal-owerhede haar sonder haar kind sou ontslaan.
Japhta vertel dat Lezaane Saterdag gebore is, maar weens probleme met haar longetjies is hulle dringend vanaf De Aar na die RMSH se neonatale hoësorgeenheid gestuur.
Teen Woensdag was daar soveel verbetering by Lezaane dat besluit is om hulle huis toe te stuur.
Volgens Japhta was sy dié dag omstreeks 16:00 met die laaste administrasie van ontslag besig. Sy het in die saal bevestig dat sy gou vir Lezaane in haar kot los, maar toe sy terugkom, was net die kombersies daar.
Japhta sê hoewel sy onmiddellik bekommerd was, het sy onthou dat Lezaane vroeër die week ook nie in haar kot was toe sy die saal ’n oomblik moes verlaat nie. Lezaane is toe egter deur een van die verpleegpersoneel na ’n ander deel van die saal vir bloedtoetse geneem.
Sy het dadelik navraag begin doen, en toe ’n suster vir haar sê: “Maar ek dog sy is by jou,” het Japhta dadelik geweet daar is fout.
’n Verdagte vrou, wat sy telkens oor ’n tydperk by die saal opgemerk het, het onmiddellik in haar gedagtes gekom.
Dié vrou het glo gereeld in die wagarea voor die K3-saal gesit, met ’n pienk kamerjas aan en ’n doek oor haar gesig. Japhta het die vrou nooit hoor praat nie, maar volgens haar het die vrou ’n “gelerige” gelaatskleur.
Dié vrou het ook geen baba gehad wat in die saal opgeneem is nie, maar volgens bewering het dié vrou glo vroeër ’n miskraam gehad.
Ná Lezaane se verdwyning is die pienk kamerjas glo onder een van die masjiene aan die voorpunt van die saal gevind.
Die gebrek aan sekuriteit by die hospitaal het onder hewige kritiek deurgeloop. Dit het boonop saamgeval met ’n staking van sekuriteitspersoneel by die hospitaal.
Die babadogtertjie, wat Saterdag 2 September gebore is, sal ’n mediese roetine-ondersoek ondergaan en met haar ouers herenig word.
Lt. Gen. Koliswa Otola, provinsiale kommissaris, het die polisielede vir hul uitstekende werk bedank, en ook die gemeenskapslede vir hul samewerking.





