Die behandeling van beseerde of stywe spiere en bindweefsel, spierspasmas, die verligting van spanning en pyn, en raad om ’n korrekte liggaamshouding te handhaaf, is deel van dit wat pasiënte by die Roos Rehabilitation Center in Kathu kan verwag.
Dié praktyk van Timothy Roos, ’n gekwalifiseerde terapeutiese masseerterapeut, het op lentedag sy deure oopgemaak.
Met sy tweejaar-diploma in terapeutiese massering wat die 22-jarige Roos aan die Potchefstroom Academy verwerf het, asook 240 praktiese ure as ondervinding, is hy gereed om saam met sy pasiënte ’n pad na beter gesondheid te stap.
Roos vertel terapeutiese massering behels onder meer die mobilisering en manipulasie van sagte weefsel, soos spiere en bindweefsel, om normale en funksionele gebruik te herstel.
Terapeutiese massering word ook gebruik om te help met die behandeling van spanning, pynverligting en probleme wat deur ’n swak liggaamshouding veroorsaak word.
Atlete wat sy of haar sportprestasie wil verbeter en sportbeserings wil probeer voorkom of vinniger daarvan wil herstel, vind ook baat by terapeutiese massering.
“Gereelde massering kan tot verbeterde sirkulasie lei, asook beter mobiliteit van gewrigte,” vertel Roos.
Tegnieke wat gebruik word wissel van sagte ontspannende massering tot dieper “trigger point”-terapie.
Roos, wie in Kathu grootgeword het, sê dat terapeutiese massering ’n geregistreerde en gereguleerde beroepspraktyk is.
Dit sorteer onder die Allied Health Professionals Council of South Africa en word deur die Wet op Aanvullende Gesondheidsberoepe beheer.
Tydens ’n sessie wat ongeveer ’n uur duur, sal Roos die pasiënt evalueer, sy of haar mediese agtergrond vasstel en behandeling volgens ’n besering voorstel.
’n Pakket, vir tien sessies is ook beskikbaar. Hiertydens begin Roos met ’n 90-minute analise. Dit sluit onder meer die evaluering van die pasiënt se postuur in om te bepaal hoe die persoon normaalweg staan, stap of sit.
Ná die analise en die vasstel van probleemareas word ’n program uitgewerk om herstel of rehabilitasie aan te spreek.
Roos kan ook onder meer strekke en matige oefening aanbeveel, vordering in die volgende sessies bepaal, en voorstelle rondom voeding en dieetaanvullings maak.
“Wanneer ek ’n pasiënt nie kan help nie, sal ek die persoon na iemand in ’n ander beroepsrigting verwys wat die beste sal kan help. Alles wat in my praktyk gedoen word, gaan daaroor om ’n persoon gesonder te maak,” sê Roos.
- Die praktyk, Roos Rehabilitation Center, is op die hoek van Rietbok- en Ben Alberts-straat geleë.
- Bel Roos by 065-863-2590 of stuur ’n e-pos na lgtimkathu@gmail.com




