Op die uitstalling is van links Annie du Toit (kwilt-leermeester van Bothaville), Hannelie de Wet (Beauté-kwiltwinkel in Bultfontein) en Sonja Greyling (organiseerder van die “quilting sew-cial” en die uitstalling).

Foto: Verskaf

Meer as 134 kwilte was verlede week in Kimberley op ’n uitstalling te sien.

Die organiseerder van die uitstalling en van die “quilting sew-cial”-kursus wat by die NG kerk Kimberley-Wes aangebied is, Sonja Greyling, sê dit het haar verwagtinge oortref en sy beskryf dit as ’n “formidabele kwiltuitstalling”.

Op die uitstalling is van links Annie du Toit (kwilt-leermeester van Bothaville), Hannelie de Wet (Beauté-kwiltwinkel in Bultfontein) en Sonja Greyling (organiseerder van die “quilting sew-cial” en die uitstalling).

Hiervoor is kwilte van kwiltmakers van onder meer Kimberley, Bultfontein, Boshof, Bloemfontein en Hartswater geleen om uit te stal. Greyling, self ’n kwiltmaker, vertel dat die detail van die kwilte verstommend is.

“Om kwiltwerk te doen is soos ’n verslawing. As jy eers daarmee begin, kan jy nie ophou nie.”
Sonja Greyling

Die meeste kwiltmakers begin met tradisionele blokke en patrone, en hoe meer vaardig ’n mens raak, hoe meer wil jy probeer, verduidelik sy. Wanneer ’n mens ander kwilt­makers se werk sien of patrone op die internet, kan jy nie anders nie: Jy moet dit ook probeer.

Met kwiltwerk is daar nie ’n modeneiging nie. Elkeen kies ’n grootte kwilt, patroon, materiaal en kleurkombinasies na smaak – gewoonlik iets wat jy wil gebruik of in jou huis wil hê.

kwilt

Van die kwiltwerke op uitstalling.

“Kleurkombinasies en materiaal is net so belangrik soos beplanning van die patroon, veral om sekere punte te beklemtoon.”

’n Kwiltmaker kan ’n verskeidenheid produkte maak – van tafelmatjies, sakke, kussings en bedoortreksels tot muurbehangsels, om net enkeles te noem.

Meestal word slegs 100%-katoenmateriaal gebruik omdat dit veel meer duursaam is.

Hoewel die maak van kwilte baie ure se toewyding en handvaardighede verg, is daar tegnieke om vinniger en makliker met sekere aspekte daarvan te werk, sê Greyling.

Die onlangse kwiltuitstalling in Kimberley.

Die “quilting sew-cial”-kursus wat aangebied is deur Annie du Toit van Bothaville, ’n geakkrediteerde leermeester van die Suid-Afrikaanse Kwiltersgilde, is deur 15 kursus­gangers bygewoon, waarvan 12 nuwelinge is.

Hannelie de Wet van Bultfontein, eienaar van die Beauté-kwiltwinkel en voorsitter van die Sandveld-kwiltersgilde, het materiaal en ander kwiltbenodigdhede verkoop.

Materiaal en ander produkte geskik vir die maak van kwilte is ook tydens die uitstalling te koop aangebied.

Tydens die uitstalling op 25 September en die daaropvolgende tweedagkursus op die Maandag en Dinsdag het die Kimberley-tak van die Vrouelandbou­vereniging (VLV) onder leiding van Thea Auret en Marlene Lategan drink- en eetgoed te koop aangebied, as geldinsameling vir die tak.

Thea Auret (links) en Marlene Lategan van die Kimberley-tak van die VLV.

Om kwiltwerk te doen word nie net as ’n kunsvorm beskou nie, maar ook as ’n soort van ’n toevlugsoord of stille afsondering.

  • Greyling sê ’n groep Kimberley-vroue wat kwiltwerk doen, kom op die tweede Saterdag van elke maand byeen. Belangstellendes word genooi om Greyling by 082-339-7967 te bel.

Van die kwilte op uitstalling.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article