As jou kind byt, wys dit op iets wat fout is by die huis?
’n Gebyt by kleuters is normaal en dikwels die kleuter se manier van kommunikeer. Tog kan dit nie aanhoudend ignoreer word nie.
Afrikaans.com het met die vroeëkinderontwikkelingspesialis en eienaar van Oasis Club Learning, Yolandi van den Heever-Breytenbach, gesels oor wat ouers te doen staan as hulle kleuter byt.
Wat is moontlike oorsake van byt in kleuter en peuters?
- Frustrasie. Die kleuter wil kommunikeer, maar taalvaardighede is nog nie bemeester nie. Dit veroorsaak frustrasie.
- Te min lyflike aktiwiteite, veral waar verwag word dat kleuters heeldag agter boekies moet stilsit. Maak seker jou kleuter is besig genoeg.
- Verandering in omstandighede. Ons het dikwels soveel grasie vir volwassenes, maar vergeet dat ons kleuters en peuters ook geregtig is op ’n afdag.
- Verkenning van nuwe dinge, soos speelgoed.
- Tande kry. Dit is fisiologiese ontwikkeling en het niks met emosionele oorsake uit te waai nie.
- Opgewondenheid.
- Sensoriese oorstimulasie. Te veel lawaai, te veel skermtyd, te lank in die kar, draai te lank op die telefoon. Onthou dat temporaliteit nog nie ontwikkel is nie.
Moontlike strategieë wat toegepas kan word
- Trek die kleuter se aandag af.
- Probeer raaksien watter situasies die kind laat oorgaan tot byt en bestuur dit voor die tyd. Beperk die vier uur lange inkopietog totdat jou man jou kleuter kan oppas.
- Maak seker daar is voorsiening gemaak vir fisiologiese behoeftes. Bv ’n tandering en pynstroop vir seer tandvleise.
- Tree ferm op wanneer so ’n voorval plaasvind. Moenie lag of iets dergelik nie. Dis dalk die eerste maal snaaks as jou kleuter jou byt soos ’n piranha. Dis nie die tiende maal steeds snaaks nie.
- Oppas om straf uit te deel, maar aanvaar ook dat jou kleuter nie perfek is nie. Dit is belangrik dat ouers nie slegs die beste van hulle bloedjies glo en so keer dat hulle kinders kan groei nie.
- Werk saam met die skooltjie en juffrou. Hulle is in die meeste gevalle nie daarop uit om op jou tweejarige te pik nie. Wanneer die ouers en die skool in dieselfde span is, is dit tot die voordeel van die kind.
- Beperk aktiwiteite wat kan lei tot frustrasie, soos oormatige skermtyd. Die kleuter is gemaak om te klim, klouter en aktief deel te neem aan die wêreld. Om vasgenael voor ’n skerm te sit, is ’n baie onnatuurlike ding vir ons klein maats.
- Neem jou kleuter se gemoedstemming in ag en toon begrip daarvoor. Dis egter nie nodig dat jou kleuter die huis regeer nie.
Kleuters het beperkte moraliteit en reageer nog nie uit begrip van goed en sleg nie. Die kleuter hou egter van die beloning wat gepaard gaan met “goeie” gedrag. Moet dus nie van jou kleuter verwag om uit hulle eie te weet dat byt verkeerd is nie.
Indien jy as ouer vermoed dat die bytery ’n ander oorsaak het, en geen strategie werk nie, kan ’n arbeidsterapeut of spelterapeut se hulp ingeroep word.



