Om soos ’n werfhoender hier te pik, daar te skrop en na die volgende blombedding of miskoek te beweeg, so is dit om daagliks nuus van die wêreldwyeweb op te pik-pik.
’n Mens vluglees duisende woorde, maar enkeles staan uit – gelykstaande aan ’n miswurm om ’n werfhoender se honger te stil.
Só het ’n paar sinvolle opmerkings verlede week uit ’n onverwagte oord gekom toe adj. pres. Paul Mashatile gesê het (ignoreer vir een oomblik die geraamtes wat uit sy kas tuimel) dat die Suid-Afrika van vandag nie die Suid-Afrika is waarvoor die ANC geveg het nie.
“Daar gaan nie ’n dag verby dat ons nie gekonfronteer word met dade van geweld en misdadigheid nie,” het hy tydens ’n ontmoeting met geloofsleiers gesê.
“Erger nog, dié dade word regstreeks gestroom namate sosiale media ons burgers in passiewe omstanders verander wat die vernedering van ander aanskou.”
Mashatile het ook gesê ons moet as ’n nasie bekommerd wees oor die verbrokkeling van maatskaplike bewustheid.
Maar van ’n geskrop tussen woorde kry ’n mens nie net vet miswurms nie; jy kry ook dié wat jy nie meer wil sluk nie, maar jy moet: verval, beurtkrag, kaping, korrupsie, stropers, moord . . .
Dan is dit so salwend vir die gemoed om ’n mede-suster in woordverdrukking se woorde te lees. In haar rubriek in Rapport skryf die Noord-Kaapse digter en skrywer, Lynthia Julius:
“Een jaar sit ek in die klas by Kovsies en kyk, ek is homesick. Ek sit daar en al plek wat ek in wil wees is die Noord-Kaap. Ek verlang haar taal. Ek verlang haar mense.”
Sy skryf hoe moeg sy is “van die intellektualisme van goed”.
Sy beskryf die pad van Upington, Keimoes, Kakamas, Pofadder, Aggeneys “asof daardie pad met garing aan my vasgewerk is”.
Haar woorde is die sappigste en vullendste miswurm vir die week, en laat ’n mens soos ’n tevrede hoender op die stellasie gaan sit, met jou kop knus onder die vlerk ingedruk om uit te rus vir die volgende dag.

