Die nasionale departement van water en sanitasie (DWS) sê hy is besig met stappe teen sekere Noord-Kaapse munisipaliteite weens wanfunksionele watersuiweringsaanlegte en besoedeling van die Vaal- en Oranje-rivier.
Die provinsie het luidens die jongste Blou-, Groen en Geendruppel verslae teen 87% die hoogste persentasie watersuiweringsaanlegte met swak of kritieke werkverrigting. Dit het sedert 2014 met 48% verswak. Boonop het die provinsie ook die hoogste tekort aan gekwalifiseerde personeel wat doeltreffende proseskontrole en infrastruktuur-onderhoud moet bestuur.
Die Bloudruppelverslag handel oor die gehalte van drinkwater, die Groendruppelverslag oor watersuiweringsaanlegte en Geendruppelverslag oor hoeveelhede water (wat inkomste vir munisipaliteite moet genereer) wat verlore gaan weens lekplekke en swak bestuur.
Gawie van Dyk, departemente direkteur van regulering, nakoming en toepassing van wetgewing in die Noord-Kaap, sê die meerderheid van Noord-Kaapse munisipaliteite het reeds direktiewe van die departement ontvang.
“Die volgende stappe is om siviele of strafregtelike sake teen die betrokke munisipaliteite te volg. Ons oorweeg strafregtelike klagtes teen die Kai !Garib-munisipaliteit in Kakamas, asook teen die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley, oor voortslepende besoedeling.”
Van Dyk sê die Vaalrivier is die “werkperd” van die land wat 60% van industrieë en 40 % van die bevolking onderhou. “Daarom het ons ’n program begin om die prestasie van watersuiweringsaanlegte te moniteer.
Bentley Vass, Noord-Kaapse LUR vir samewerkende regering, behuising en tradisionele sake, sê die munisipaliteite wat die grootste waterinfrastruktuur-probleme het, is die Sol Plaatje-, die Magareng-, en die Kai !Garib-munisipaliteit in Kakamas.
Die Sol Plaatje-munisipaliteit het egter ’n Begrotingsfasiliteit vir Infrastruktuur (BFI) ontvang om die grootmaatwaterinfrastruktuur-uitdagings op te los. Dit sal in drie fases, oor die volgende agt jaar, in werking gestel word.
“Intussen het die betrokke munisipaliteit ná die onlangse watertekorte by die Riverton-watersuiweringsaanlegte reeds van die filtermedia (sand) vervang, suiweraars skoongemaak om die slikoordrag na die filters te verminder, die watervlokkingsmiddel verander om die watergehalte te verbeter, pompe aangepas om meer water te pomp, en wanfunksionele meganiese en elektriese komponente vervang.
“Ek en die LUR vir finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme hou gereeld vergaderings met munisipaliteite. Een van die permanente onderwerpe is die erns van watergehalte.”
Bafedile Lenkoe, departementshoof, sê die swak bestuur en lewering van swak drinkwatergehalte aan gemeenskappe is ’n ernstige vingerwysing na die regering.
“Ons is aktief betrokke wanneer munisipale infrastruktuurprojekte geregistreer en befonds word om toelae te ontvang. Munisipaliteite se tariewe begroot nie vir kostes om water te voorsien nie, en moet as ’n bron van inkomste bestuur word.”
Hy sê hulle gebruik ingenieurs van die Munisipale Infrastruktuurondersteuningsagentskap (Misa) om munisipaliteite by te staan omdat dit moeilik is om ingenieurs na landelike munisipaliteite te trek en dan te behou.




