Kathu is lankal nie meer “Sishen se myndorp” nie en dié Noord-Kaapse dorp het tot die ekonomiese middelpunt van ’n groot streek van die provinsie gegroei.
Vir dié rede voel ’n groep inwoners en sake-eienaars van Kathu ongemaklik met mediaberigte wat op 22 Februarie verskyn het waarin ’n ander inwoner aangehaal is wat sou gesê het: “Dit gaan baie sleg hier en daar is so baie huise wat nou hier leegstaan.”
Dié opmerking, sê ’n woordvoerder vir die groep wat verkies om anoniem te bly, is “bloot net nie korrek nie”.
Die berigte het gekom ná Mpumi Zikalala, uitvoerende hoof van die ysterertsgroep Kumba, se afkondiging op 20 Februarie dat ongeveer 490 poste in gedrang is weens herstrukturering, asook 160 kontrakteurs of diensverskaffers wat geraak kan word.
Indien ’n groot aantal Kumba-werknemers wel deur die herstrukturering geraak word, sal dit ’n invloed op die dorp hê, maar “dit moet nie buite verband geruk word nie,” sê die woordvoerder.
“Ons is al meer as 15 jaar in Kathu en omgewing betrokke, en is dit eens dat die invloed tydelik van aard sal wees.”
Die woordvoerder sê dit is so dat van die myne in die omgewing van Kathu van tyd tot tyd deur prosesse van verandering gaan, maar telkens het Kathu sterker in ontwikkeling en ekonomiese groei na vore getree.
’n Gemeenskapsleier, wat ook verkies om anoniem te bly, stem met dié groep se sentiment saam.
“Ons kan dit nie miskyk dat daar wel mense is wat hul werk gaan verloor nie. Ons kan dit ook nie miskyk dat Transnet se onbekwaamheid daartoe bygedra het nie.
“Maar daar is soveel ander myne in die Kathu-omgewing wat geen poste sny nie. Diegene wie se poste moontlik in gedrang is, woon ook nie net in Kathu nie. Ek bly positief oor Kathu en die moontlikhede wat dié dorp bied,” sê die gemeenskapsleier.
“Kathu het oor dekades reeds sy ekonomiese stabiliteit waaraan uitbreiding gekoppel is, bewys,” beklemtoon die woordvoerder van die groep.
Boere en sake-eienaars van so ver soos Van Zylsrus besoek Kathu vir benodigdhede, terwyl die veilige en ook moderne inkopiegeleenthede wat dié dorp bied, inwoners van onder meer Olifantshoek, Kuruman, Postmasburg en omstreke trek.
Van die betrokkenes in die groep is ook by ontwikkeling in die eiendomsmark betrokke, en “baie goeie geleenthede” soos die ontwikkeling by die Kalahari-gholflandgoed en die Bestwood-landgoed in en om Kathu word genoem.
“ ’n Mens hoef net deur die dorp te ry om die vooruitgang van die afgelope paar jaar te sien; nuwe nywerheidsuitbreidings het op groot skaal hier tot stand gekom, en nuwe behuisingskemas is ontwikkel en gaan voort.”
Twee van die groot inkopiesentrums het verbeterings van etlike miljoene rande aangebring en nuwe konsessiehouers het winkels oopgemaak.
Zikalala het gesê die finale aantal poste wat geraak word, sal eers bekend wees ná ’n konsultasieproses met onder meer vakbonde en betrokkenes, in oorleg met die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie.




