Elke Woensdagmiddag leer laerskoolleerlinge, en deesdae ook hoërskoolleerlinge wat die leesklub by die Beaconsfield-biblioteek in Kimberley bywoon, ál spelende hoe om beter te spel, te skryf en voor te lees.
Manda Hough, waarnemende stadsbibliotekaris van die Sol Plaatje-munisipaliteit wat agt streekbiblioteke en die Africana-navorsingsbiblioteek bestuur, sê dié bydrae om kinders se skolastiese ontwikkeling te stu, maak gemeenskapsbiblioteke uiters belangrik en waardevol, juis omdat Suid-Afrika se kinders nie meer met begrip kan lees nie.
Sy het groot planne vir die komende Nasionale Biblioteekweek, wat van 19 tot 24 Maart plaasvind en waarvan die tema “sosiale kohesie” is.
Tydens dié week beplan sy om ’n poppekas en storie-uur vir kleuters aan te bied en ’n motiveringspreker te nooi om met laerskoolleerlinge te gesels.
Die leesklub is in 2014 in die klipgebou, wat uit 1889 dateer, begin.
Dit het eers aan ’n mynmaatskappy behoort wat dit later aan die gemeenskap vir ontspanning geskenk het.
Hough is al vir haar goeie werk beloon: In 2022 is sy as die Nasionale Bibliotekaris van die Jaar deur die Biblioteek- en Inligtingsvereniging van Suid-Afrika (Liasa) en Universal Knowledge Software (UKS) bekroon.
“My ma, wat ’n laerskoolonderwyser was, het baie leermateriaal geskenk.
“Die kinders geniet dit vreeslik, en sommige van hulle kom al jare lank. Hulle bring ook hul maatjies saam.”
Die meeste leerlinge is van die Laerskool Du Toitspan en sommige van die Laerskool Herlear.
“Dit kinders vorder ongelooflik deur die jaar. ’n Mens kan duidelik sien hoeveel beter hulle lees.
“Ons doen allerhande aktiwiteite waarin ek of die assistente stukkies voorlees, wat hulle ook moet doen. Wanneer hulle foute maak, help ons hulle om dit reg te maak.”
Sy sê lees maak kinders slim.
Toe die biblioteekgebou ’n paar jaar gelede 130 jaar oud geword het, het die leesklubkinders dit vreeslik geniet om ’n gedig vir die biblioteek te skryf en dit op die spesiale geleentheid op te voer.
“Die kinders kry individuele aandag by ons. Deesdae is klaskamers oorvol en individuele aandag geniet nie meer voorrang nie.
“Ons doen moeite om die lesings genotvol te maak. Hulle sosialiseer ook op ’n ander plek as by die huis.”
Vanjaar met die Wêreldhardopleesdag op 7 Februarie het die gr. R-klas van die Laerskool Du Toitspan hulle besoek waar hulle stories voorgelees het.
“Wanneer jy voorlees, moet jy ook toneelspeel, of jou stem aanpas om verskillende karakters voor te stel.”
Hough het ’n permanente personeellid in die Beaconsfield-biblioteek wat haar bystaan, en tydelike studente-assistente help met die daaglikse take.
Nasionale leeskompetisie op die horison
Vanjaar is hoërskoolleerlinge genooi om hulle by die leesklub aan te sluit.
“Ek wil hê hulle moet binne ’n jaar ook aan die Funda Mzantsi- nasionale leeskompetisie van die Nasionale Biblioteek, vir hoërskoolleerlinge van 15 jaar of ouer, deelneem.
“Ons kan hulle solank vir soortgelyke provinsiale kompetisies inskryf as deel van die voorbereiding.
“Hulle oefen by die huis, en elke week verbeter ons die tegnieke vir hardopvoorlees.”
Sy gaan ook die gr. 8-leerlinge aanmoedig om aan die MobiReadathon-kompetisie deel te neem.
Dit is ’n leesontwikkeling- en digitale geletterdheidsprogram wat daarop gemik is om hoërskoolleerlinge bekend te stel aan aanlyn lees en die produktiewe gebruik van mobiele toestelle om te leer.
Die leerlinge registreer op cojelearning.org.za, laai stories in pdf-formaat af of lees dit aanlyn, en beantwoord vrae om hul begrip te toets.
Die wenners word gekies volgens hul vasvra-antwoorde en die tyd wat dit neem om die vrae te voltooi.
- Rig navrae aan Hough by 083-232-0070 of die biblioteek by 053-830-6245.





