Beserings aan nog drie agterspelers het die afrigters van die Griekwas nou genoop om voelers uit te steek om spelers van ander unies te leen vir die res van die Curriebeker-reeks.
Die losskakel Lubabalo Dobela, heelagter Cameron Hufke, en die agterspeler Jay-Cee Nel is Sondag 11 Augustus in Durban beseer in Griekwas se nederlaag van 21 – 40 teen die Haaie.
Met George Whitehead ook op die krukkelys, beteken dit dat die Poubloues nou slegs Zinedine Robinson tot hul beskikking het vir die nr. 10-trui.
“Ons agterspelers raak nou op. Ons wag om te hoor hoe ernstig sy (Dobela se) besering is en dan sal ons kyk of ons spelers kan leen vir die res van die seisoen,” sê Pieter Bergh, afrigter.
Die Griekwas sal poog om die komende Sondag teen die Griffons in Welkom hul seisoen om te keer.
Hul nederlaag in Durban was hul vierde agtereenvolgende in vanjaar se Curriebeker-reeks.
“Vandeesweek is belangrik, Ons moet terugkom op die wenpad. Ons weet hoe gevaarlik die Griffons kan wees,” sê Bergh.
Die Noord-Vrystaters is steeds segeloos in vanjaar se Curriebeker en beklee die onderste plek op die puntelys, met die Griekwas voorlaaste. – Marnus Kok


