Knyp. Stofbakkies. Grootdrink. Keelafsnyleegte. Soebatsfontein. Putsonderwater. Kykompan.

Wanneer woorde bekoor en ’n mens oor die oorsprong of betekenis van plekname wonder, is die padaanwysingsborde in die Noord-Kaap en die name op ’n padkaart van dié provinsie ’n bron van vreugde wat allerlei stories in die gedagtes optower.

“What’s in a name? That which we call a rose, by any other word would smell as sweet.” Só skryf William Shakespeare in die 1590’s. Hy het glo bedoel dat name en naamgewing ’n manier is om mense en dinge te onderskei, maar dat die naam op sigself nie veel betekenis het nie.

’n Klompie eeue later verwerp onder andere ’n skrywer op Britannica.com Shakespeare se aanname, en skryf hy dat plekname ’n bron van inligting is, asook ’n aanduiding van die kulturele en die politieke diskoers van die tyd.

In die hedendaagse politieke diskoers, ook in Suid-Afrika, word plekname en hul voorgestelde verandering gereeld ter tafel gelê.

Hieroor skryf ene Eric Wiener in ’n meningstuk op bbc.com dat sy speltoetser nie kan byhou met die duiselingwekkende tempo waarteen plekname oor die wêreld heen verander nie.

Plekname word vir verskeie redes verander, en dit gebeur glo so lank reeds soos wat daar plekke en name is. Parys was eers Lutetia, New York was New Amsterdam, Tokio was Edo . . . en die lys gaan aan.

Mier. Riemvasmaak. Pofadder. Kanoneiland. Springbok. Lykso. Onseepkans. Hondeklipbaai. Pella. Askham. Kakamas. Bulsny. Kleinzee. Aggeneys. Komaggas. Nababeep. Koingnaas. Bulletrap. Hakskeenpan. Skerpioenkolk. Onderste Doornknie. Karos. Verskepvloer. Geselskap. Holgat. Trooilapspan. Laaistokpan. Toontjiespan. Omdraaivlei.

Ongeag die onbekendheid wat die toekoms selfs ook vir plekname inhou, vertel dié eg Noord-Kaapse name intussen tydlose stories wat nie eens Shakespeare sou kon uitdink nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article