Zinedine Robinson, losskakel van die Griekwas, op die aanval.

Foto: Griekwas

’n Drie in die 78ste minuut deur die plaasvervanger-skrumskakel Bobby Alexander het verseker dat Griekwas die Westelike Provinsie in die Curriebeker-reeks in Kimberley geklop het.

Die Poubloues het op Vrydag 6 September met 37 – 29 gewen, om hul sewende agtereenvolgende sege in die reeks oor die Streeptruie te behaal. Nadat die sirene geloei het, het Zinedine Robinson (losskakel) boonop drie punte met ’n strafdoel vir die Noord-Kapenaars bygesit.

Dit was albei spanne se laaste kragmeting in vanjaar se Curriebekerreeks.

Vir die grootste gedeelte van die eerste helfte was Griekwas die beste span op die veld.

Die vleuel Dylan Maart en die slot Dylan Sjöblom het goeie drieë vir die tuisspan gedruk. Soos die wedstryd gevorder het, het die Streeptruie beter gespeel. Toe die Poubloues se flank Thabo Ndimande ’n paar minute voor rustyd van die veld gestuur is, het WP in die tyd wat Griekwas net 14 spelers op die veld gehad het, twee drieë gedruk.

Teen rustyd was die telling 20 – 15 in die Poubloues se guns.

Vir die Noord-Kapenaars het Maart en Thomas Bursey (skrumskakel) goeie spel gelewer wanneer hulle die bal in die hand gehad het. Bursey doen as leenspeler van die WP vir Griekwas diens. Daarbenewens het Sjöblom meer as een keer met sukses op die Streeptruie se ingooie by lynstane meegeding.

In die 52ste minuut is die Streeptruie se geduld op die aanval beloon toe Dan du Plessis (senter) sy tweede drie gedruk het.

Matthee het twee punte met ’n doelskop bygesit om die telling 22 – 20 in die Streeptruie se guns te maak. Daarna was dit ’n wipwaentjie-rit met die uitslag van die wedstryd wat lank in die weegskaal was. Maar toe duik Alexander naby die einde oor om glorie vir Griekwas te bring.

Marnus Kok

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article