Vier verdagtes wat vir die moord op ’n 81-jarige boer, Hendrik Venter van die Kuruman-omgewing, in hegtenis geneem is, het op Maandag 30 September in die landdroshof in Kuruman verskyn.

Twee van die verdagtes, onderskeidelik 18 en 20 jaar oud, is vrygelaat. Die ander twee, Orabile Vincent Motsewakgosi (24) en Kabelo Tata (26), bly in aanhouding.

Hul aansoek om borgtog word op Vrydag 4 Oktober aangehoor, sê kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder.

Venter se lyk is op Vrydag 27 September omstreeks 09:45 by ’n hek langs sy voertuig gevind.

Hy het kopwonde gehad en na bewering is kontant geroof. Die polisie is onmiddellik in kennis gestel, en die 72-uur aktiveringsplan is in werking gestel. Verskeie eenhede van die polisie, asook inwoners van die omgewing en die buurtwag, het met die soektog gehelp.

Drie verdagtes is omstreeks 18:00 naby Hotazel vasgetrek.

In ’n verklaring sê dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en provinsiale leier, die feit dat die oorledene onderweg was om lone te betaal en dat die kontant daarvoor vermis word, tot die gevolgtrekking lei dat die motief roof was.

“Die vraag is waarom dit nodig was om sy lewe te neem. Indien vier mense ’n bejaarde van 81 jaar by ’n hek inwag, kan hulle seker enigiets van hom afneem sonder om hom te vermoor,” sê Boshoff.

Die ondersoek duur voort.

Enigeen met meer inligting kan lt.kol. Gert du Plessis by 082-454-2942 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article