Om oud te word is nie almal beskore nie.
Onlangs het Rooyma se neuroloog haar meegedeel dat, danksy mediese navorsing, mense wat met meervoudige sklerose (MS) gediagnoseer is nou dieselfde lewensverwagting het as diegene sonder dié outo-immuunsiekte.
Dit staan in skrille kontras met die vroeëre verwagting dat hul lewensverwagting sewe tot tien jaar korter sou wees. Dit is juis hierdie opvatting wat daartoe gelei het dat Rooyma tien jaar gelede besluit het om nie meer haar hare te kleur nie, maar eerder veroudering te omhels.
Maar toe word die grys hare vinniger meer namate die gesin groter geword het. Op die vooraand van haar 37ste verjaardag besluit Rooyma tog om met ’n boksie haarkleursel die voorbarige, taamlik bros en gekartelde grys hare wat in alle rigtings staan te probeer tem.
Die kleursel het oral beland – aan die badkamerteëls, punt van haar neus, verby die aanbevole Vaseline-rand om die haarlyn. Boonop was die kleursel nie sjokoladebruin nie, maar ’n aweregse pers. Rooyma se suinigheid en ’n paar skietgebede het haar laat aanhou probeer.
Sy het die halfuur uitgestaan terwyl sy kleurselblertse tot aan die vensterreling probeer afvryf het.
’n Halfuur later was haar verligting groot toe die uitspoelwater van rooipers na deursigtig verander, met geen pers- of grys haar sigbaar nie.
Rooyma het die knie voor ydelheid gebuig in die hoop dat sy nie so naby aan veertig sou lyk nie. Nadat Oudste se oordrewe opgewondenheid oor haar verjaardag haar tot introspeksie gedryf het, het Rooyma besef dat 4-0 steeds ’n “spring chicken”-ouderdom is.
Ouderdom is immers net ’n ingesteldheid, en haarkleursel ’n oëverblindery.



