Dead bird on Kamfersdam
A dead bird on Kamfers Dam outside Kimberley. Photo: Supplied

Watervoëls vrek weer op die Kamfersdam buite Kimberley, vermoedelik vanweë botulisme weens die besoedelde afvalwater wat uit die wanfunksionele Homevale-rioolsuiweringsaanleg in die pan vloei.

Die departement van water en sanitasie (DWS), het in samewerking met die departement van omgewingsake, strafregtelike klagtes teen die Sol Plaatje-munisipaliteit ingedien en word ondersoeke gedoen weens die twee wanfuksionele rioolsuiwerings­aanlegte met onbehandelde water wat ook na Benfontein en Platfontein stroom.

Kamfersdam was vir jare ’n paradys vir veral kleinflaminke en ander watervoëls, maar die flaminke het van die besoedelde dam gevlug. Botulisme het drie jaar gelede hier uitgebreek wat tot voëlvrektes gelei het.

Kamfersdam

Só word Kamfersdam nog op vele toerisme-webblaaie as ‘n flaminkparadys bemark. Dit is lank reeds nie meer die geval nie.

Mark Anderson, uitvoerende hoof van BirdLife South Africa, het sy skok op sosiale media oor die swak toestande en voëlvrektes uitgespreek. Hy het die munisipaliteit en owerhede versoek om dringend die toestand van die aanleg en dam reg te ruk.

Hofbevel verontagsaam
Die munisipaliteit het ondanks ’n hofbevel teen hulle nie ’n regrukplan teen die spertyd ingedien waarin stappe uiteengesit word om die probleem op te los nie.

Die hofbevel is vroeër deur Brenda Booth bekom, ’n grondeienaar wie se plaas deur die water verswelg en besoedel word.

Ester van der Westhuizen-Coetzer, ’n omgewingspesialis van die Ekapa-myn wat vir natuurorganisasies soos BirdLife South Africa navorsing doen, doen ook ’n ondersoek.

“Op 26 November het ek dooie bleshoenders, ’n seemeeu en ’n kleindobbertjie gesien. Dr. Donovan Smith, veearts van die Kimberley Veterinary Clinic, het gekom om vas te stel of die voëls simptome van botulisme het. Van die siek voëls is uitgesit en die oorskot na Onderstepoort gestuur. Daar was skuim en onbehandelde rioolreste op die kant van die dam en in die water.”

Die DWS, asook omgewingsake, is in kennis gestel.

By die suidwestelike kant van die dam het Van der Westhuizen-Coetzer en die grondeienaar nog dooie voëls ontdek, wat ’n flamink insluit. Die water op die kante is ’n helder groen en die reuk van riool oorweldigend.

Sy sê volgens ’n patologieverslag het die voëls weens botulisme gevrek en het watertoetse ook die teenwoordigheid van dié bakterie bevestig.

Een van die talle dooie watervoëls langs die Kamfersdam-pan.

“Die chemiese suurstofbehoefte-ontleding (COD) toon ’n telling van 1 105 mg/l COD, terwyl dit 75 mg/l COD moet wees. Dit beteken daar is nie suurstof in die water nie. Dit toon ’n groot besoedelingsvoorval wat die uitbreek van botulisme veroorsaak het.

“Voëlbotulisme word deur warm temperature, vlak water en alge of ander verrottende organiese materiaal veroorsaak wat lei tot anaërobiese toestande wat gunstig vir bakteriese groei is. Rioolwater is organiese verrottende materiaal en die afbreek daarvan lei tot anaërobiese toestande en botulisme floreer in anaërobiese toestande.”

Die departement van omgewingsake is besig om die karkasse te verwyder en verbrand.

Wisane Mavase, woordvoerder van die DWS, sê hulle het reeds voorbereidings getref om strafregtelike klagtes teen die munisipaliteit in te dien en werk in die betrokke ondersoek saam met die departement van omgewingsake.

“Die Sol Plaatje-munisipaliteit het teenstrydig met sy waterlisensie-voorwaardes opgehou om watermonsters te neem. Ons neem nou monsters wat vir die strafsaak gebruik sal word.”

Wette oortree
Die munisipaliteit oortree die bepalings van sy waterlisensie, die Nasionale Waterwet en die Nasionale Omgewings­bestuurswet, en dit moet reggestel word.

Die Homevale- en Beaconsfield-afvalwatersuiweringsaanlegte is albei wanfunksioneel en onbehandelde rioolwater vloei ook na Platfontein en Benfontein. Sy sê Kamfersdam is ’n kunsmatige vleiland en habitat wat in stand gehou word deur behandelde afvalwater wat aan wetlike standaarde moet voldoen.

“Ongelukkig behandel Sol Plaatje nie afvalwater op die vereiste standaard nie. Die departement
het daarom die nodige administratiewe afdwingende stappe geneem om die
munisipaliteit te dwing om dit reg te stel. Die strafsaak is die volgende stap.

“Die aanleg het
’n kapasiteit om 48
megaliter
water per dag te behandel, maar ontvang 28
megaliter per dag waarvan net 15megaliter per dag op standaard behandel
word. Dus word 13
megaliter
nie korrek behandel nie. Die aanleg wat 33
megaliter moet verwerk, is wanfunksioneel
en moet dringend herstel word.

Die situasie word
vererger weens vlak panne, hoë temperature en ’n gebrek aan reën.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article