Die treinbrug in Upington, waaraan vragmotors gereeld vashaak wanneer hulle deur die duikweg in Schröderstraat ry, raak al hoe meer beskadig en vrees bestaan dat die brug op ’n dag ineen kan tuimel.
Schröderstraat, deel van die N14-roete deur die dorp, is oënskynlik die kortste roete deur Upington, en word deur talle GPS-programme as sulks aangedui.
Waarskuwingsborde wat voor die duikweg opgerig is, is nie geslaagd om vragmotorbestuurders te keer om onderdeur die treinbrug te probeer ry nie. Inwoners doen ’n beroep op die Dawid Kruiper-munisipaliteit om weer aandag aan die borde te gee, of om ’n veiliger roete vir swaarvoertuie voor te stel.





