Die persepsie bestaan van ’n oënskynlike stilstand in Suid-Afrika om korrupsie te beveg.
Dit volgens die 2024 Korrupsie-persepsie-indeks (CPI) wat op 11 Februarie deur die anti-korrupsie beweging Transparency International uitgereik is. Interessant hoe die CPI aandui dat korrupsie boonop ’n rol in die uitbreiding van die klimaatkrisis speel.
Hiervolgens het Suid-Afrika weer ’n telling van 41 behaal, dieselfde as in 2023. Die land se telling het sedert 2019 met drie punte gedaal en bly onder die wêreldgemiddelde van 43. Nul dui op hoogs korrup, en 100 op weinig korrupsie.
Dié indeks, wat 180 lande betrek, meet persepsies van korrupsie in die openbare sektor wat waargeneem word, en nie dit wat aangemeld is nie.
Betreffende die klimaatkrisis: Geen land op aarde is daarteen bestand nie. Dit lei tot stygende temperature, verwoesting van die natuur, natuurrampe, uiterstes in weersomstandighede, voedsel- en wateronsekerheid en ekonomiese ontwrigting, wat weer tot konflik en terrorisme lei, aldus die Verenigde Nasies (VN).
In die naam van vooruitgang, en weens korrupsie tussen regerings en maatskappye, word eerder weggekyk as om die invloed van ’n ontwikkeling op die natuur in die oë te kyk, of om ekovriendelike moontlikhede te oorweeg.
Mads Christensen van Greenpeace International sê dat die korrupte mag van talle maatskappye oor die wêreld heen telkens teen die vernietigende omgewingsimpak van ’n ontwikkeling wen.
Daagliks rammel duisende brandstofaangedrewe vragmotors oor Noord-Kaapse paaie, meesal na aan die grootliks ongebruikte treinspore. Dit is nie ’n geheim waarom Transnet in die tandeknerssituasie is waarin hy is nie. Ongeag enkele nadele sal dit op meer vlakke voordelig wees as treingebruik weer behoorlik ingestel word. Maar verskonings is legio, en die persepsie van korrupsie is daar.
’n Mens wonder wie almal deur dié vragmotors verryk word.


