Vanuit persoonlike ervaring van afhanklikheid aan middels soos drank, dwelms en oor-die-toonbank-medisyne, en vanuit die wete dat dit oorwin kan word, ontvang elkeen wat die Christelike Afhanklikheidsdiens (CAD) besoek, begrip.
By CAD se Kathu-tak is dit hoe besoekers verwelkom word, en voorsitter Henriëtte Husselmann vertel oud en jonk, mans, vroue en tieners, en alle bevolkingsgroepe is welkom om dié ondersteuningsgroep se sessies by te woon.
Husselmann sê verslawing is ’n werklikheid, en dat sy en haar man albei eerstehands daarvan kennis dra: Sy was aan Grandpa-hoofpynpoeiers verslaaf, en hy aan alkohol.
CAD, ’n nie-winsgewende organisasie, is nie ’n rehabilitasiesentrum nie, en funksioneer as ondersteuningsgroepe oor die land heen.
In die Noord-Kaap bestaan die Kathu-tak sedert 2001, en CAD-takke is ook in Upington, Delportshoop en Vaalharts, met takke wat in Kimberley en Vryburg in die Noordwes gestig word. Dienste word vanuit ’n Christelike raamwerk gelewer en help ’n gerehabiliteerde persoon om sy regmatige plek in die samelewing in te neem.
Persone wat CAD-sessies bywoon, ontvang onder meer riglyne vir probleemoplossing en krisishantering; ondervind geestelike groei; doen vryetydbesteding; leer lewensvaardighede en om snellers en pyn te hanteer; asook emosies en wantroue, en om geduldig te wees.
Sessies is die geleentheid om eensaamheid te besweer en te getuig. Konferensies, waar lede van ander groepe en streke ontmoet, dien as ’n verdere uitreikingsgeleentheid.
“Ons het al met so baie ’n pad na sober gewoontes gestap; ’n pad wat nie maklik is nie,” sê Husselmann. Sy, saam met ondervoorsitter Schalk van der Merwe en sekretaresse Kyla Botha, wil graag ’n verskil in verslaafdes se lewe maak. Sy glo hulle kan saam soveel aanpak, soos die vestiging van ’n sopkombuis en groentetuin, en ’n ruimte waar handgemaakte produkte verkoop kan word.
Die taklede probeer om elke maand by die Heritage Mall se Pick n Pay-ingang pannekoek te bak en verkoop vir geldinsameling.
Tydens weeklikse sessies vind telkens ’n ander program plaas.
“Ons wys ook dit is moontlik om sonder jou drank of jou dwelms te kuier en te ontspan; om die lewe te geniet sonder afhanklikheidsmiddels.”
Husselmann nooi verslaafdes om die sessies by te woon.
“Deur erkenning en herkenning te gee, is jy klaar ’n oorwinnaar. Ons is almal net mense en een groot familie wat mekaar se laste help dra. Almal leer iets by ander. Dis nie die mense daar buite wat saak maak nie, dis jyself en jou gesin.
“Tel jou kop op en kyk die lewe vierkantig in die oë; lig jou ken en ken jou lig. Onthou, God is die wingerdstok en ons is sy lote.”
- Die Kathu-tak vergader elke Dinsdagaand om 18:30 by Lemoendoringstraat 34.
- Kontak die tak op WhatsApp by 072-239-2361 of 078-650-0828, of skryf aan henriettehusselmann@gmail.com.





