Ons praat maklik van ons tyd op aarde wat min is en waardeer moet word. Terselfdertyd hardloop ons rond, skarrel om alles gedoen te kry.

Ons ry onlangs deur ons dorp en in die verbygaan ry ons verby drie groot ongelukke.

Die volgende oggend vertrek ons vroeg per motor vanaf die huis.

Ons dogter kuier vanaf ’n nabygeleë dorp en wil op ’n ander dorp ’n trourok gaan aanpas.

Almal is opgewonde.

By ’n verkeerslig in die hoofstraat wag ons geduldig. Die pad is stil.

Ek trek my skoene uit en skuif my waterbottel nader aan my – gereed vir die lang pad.

Die volgende oomblik is daar ’n harde slag.

Dit neem ons ’n oomblik om te besef dat ’n motoris in ’n groot bakkie van agter in ons vasgery het.

Sy het ons glad nie gesien nie en geen poging aangewend om die ongeluk te vermy nie.

Die motordeur waar ek sit, wil nie oop nie.

Dit voel of ek nie asem kry nie.

Paniekerig kruip ek oor die sitplek en klouter by die ander deur uit.

Geskok loop ek kaalvoet tussendeur die glasstukkies wat oor die teerpad gesaai lê.

Ons dogter se voertuig het onherstelbare skade. Ons, daarenteen, het ’n paar blou kolle en seer lywe.

Die trourok gaan op ’n ander dag aangepas word.

Moenie uitstel om diegene na aan jou hart te koester nie. Tyd is kosbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article