Rebelspoorvasbyt
Die kampterrein in die Kalahari-veld met sonsondergang op 1 Mei. FOTO: Dr. Louis Bothma

Rebelspoortvasbyt: Stappers du voort in moddernat Kalahari


Vanjaar se Rebelspoorvasbyt-stappers het die voorreg gehad om die Moloporivier wat ‘n eerste keer in meer as ‘n eeu die Oranjerivier bereik het, persoonlik te sien.

Dié vasbyt-uitdaging wat van 29 April tot 3 Mei deur die FAK se Noord-Kaapse kultuurnetwerk aangebied is, bied aan stappers die geleentheid om die Rebellie van 1914 op ‘n tasbare wyse te ervaar.

Die noukeurig beplande roete is egter reeds op die eerste dag drasties ontwrig toe 120 mm reën oor die Kalahari uitgesak het. Planne moes vinnig aangepas word.

“Daar is geen manier dat reën, koue, wind of enige ander uitdaging 2026 se stappers sou ontmoedig nie,” sê Cara Tomlinson, FAK-kultuurnetwerkkoördineerder en organiseerder van die Rebelspoorvasbyt.

Rebelspoorstappers by die plaas Steenkampsput op pad na Bloubos waar hulle oornag het. FOTO: Dr. Louis Bothma

Die toergids, dr. Louis Bothma – ‘n historikus, skrywer en uitgewer – het die Rebellie van 1914 vir die stappers in perspektief geplaas.

Hy het die aanloop, verloop en afloop daarvan op ‘n insiggewende manier aan die jongmense oorgedra.

Volgens Bothma is die lesse uit 1914 vandag nog van toepassing. Soos die rebelle destyds, bevind baie hulself weer in ‘n minderheidsposisie, wat die waarde van samehorigheid en persoonlike verantwoordelikheid benadruk.

Die stappers is ook aan kernlesse herinner: om die Here in alles te erken; om te glo dat die onmoontlike moontlik is; dat elkeen se bydrae saak maak; dat ware vrywilligheid noodsaaklik is; en dat volgehoue beweging en deursettingsvermoë onontbeerlik bly.

Die Kalahari was buitengewoon nat, met panne vol water, wat beteken het dat sekere roetepunte oorgeslaan moes word.

LEES OOK: Pret en ‘watersport’ in die Kalahari wanneer die rivier sy walle oorstroom

Die beplande trek na Koegoekoep oor Grondneus moes weens die oorvloedige water laat vaar word, aangesien toegang tot die kampterrein onmoontlik was.

Die groep is daarna per voertuig na Zwartmodder langs die Moloporivier waar ‘n asemrowende toneel hulle ingewag het: die rivier in vloed, met water wat oor ‘n afstand van bykans 2 km kniediep oor die pad gestrek het.

Deelnemers het die skoonheid van die Kalahari beleef – sy rooi duine, uitgestrekte vlaktes en sterrehemel – én blywende verhoudings gebou. Terselfdertyd is geskiedenis op ‘n lewende, betekenisvolle wyse aan ‘n nuwe geslag oorgedra.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article