Staptog van 830 km ‘ver van maklik’ maar ‘elke tree vir Lyra,’ sê ouma


Vicky Verster, ‘n ouma van Jan Kempdorp in die Noord-Kaap, is goed op pad na Durban in KwaZulu-Natal te voet. Dié staptog pak sy aan om bewusmaking van haar driejarige kleindogter, Lyra, se siektetoestand te doen en om geld in te samel vir haar behandeling en nieroorplanting.

“Hierdie reis is rou, eg en ver van maklik – maar om op te gee is nie ‘n opsie nie,” vertel Vicky.

Haar staptog het op Maandag 4 Mei vanuit Jan Kempdorp begin, en haar mikpunt is om op 1 Junie in die Pavilion Mall in Durban in te stap. Dit is ‘n tog van nagenoeg 830 kilometer.

Vicky Verster op pad tussen Jan Kempdorp en Christiana.
Vicky Verster tydens haar staptog vanaf Jan Kempdorp tot in Durban. FOTO: Facebook

Omdat sy nie ‘n ondersteuningsbestuurder kon kry om haar vir veiligheid te vergesel, en van haar bagasie te vervoer nie, het haar seun André op kort kennisgewing besluit om saam met haar te stap.

Tydens die eerste dag van stap het nog ‘n inwoner van Jan Kempdorp, ene Christel, saam met hulle tot in Christiana gestap terwyl dié se broer hulle met ‘n voertuig gevolg het.

Enkele dae voor hul vertrek het Michael Wynne – bekend vir sy ryloop-ondersteuningstogte na persone met buitengewone siektes – die Versters besoek.

Hy het vanaf Kraaifontein in die Wes-Kaap tot in Jan Kempdorp geryloop om ook sy deel van bewusmaking oor Tyrosinemia tipe 1 te skep. Wynne, by wie prostaat- en kolonkanker in remissie is, het al nagenoeg 90 keer sy stap-en-ry-togte aangepak – dit ongeag die harttoestand wat by hom ná ‘n hartaanval gediagnoseer is.

Gasvryheid, vriendelikheid staan uit

Intussen het Vicky en André die pad vanaf Jan Kempdorp, deur Christiana, Hertzogville, Bultfontein, Brandfort, Verkeerdevlei, Excelsior, en vroeg in vandeesweek, tot in Clocolan gevorder.

In die meer as ‘n week wat hulle reeds op pad is, het hulle koud gekry, sopnat gereën, en het Vicky erge blase op haar voete ontwikkel. Sy het boonop haar een enkel sleg geswik.

“Indien enigeen tog vinnige raad teen die behandeling van blase het, laat weet my,” sê sy op een van haar daaglikse videos op haar Facebook-blad.

Op een van die dae het hulle beplan om vanaf Brandfort tot in Verkeerdevlei te stap, maar daar gekom kon hulle geen verblyf kry nie en moes hulle noodgedwonge die beplande 39 kilometer-afstand vir die dag tot 69 kilometer verleng om in Excelsior uit te kom. Op dié dag het hulle drinkwater ook opgeraak.

LEES OOK: Ouma stap 830km om geld in te samel vir behandeling van kleinkind se rare siekte

Sy vertel van die gasvryheid en vriendelikheid van mense wat hulle teëkom. Boonop is sy dankbaar vir elke plek wat haar toelaat om pamflette oor Tyrosinemia tipe 1 te versprei, en vir elke skenking wat hulle ontvang.

Bewusmaking van Tyrosinemia tipe 1 is deel van Vicky Verster se staptog. In Brandfort het sy ook pamflette oor dié siekte aan lede van die publiek uitgedeel. FOTO: Facebook

‘Ons hou aan om vorentoe te beweeg’

Vicky het vroeër vertel dat sy “net ‘n plein Jane-ouma” is wat nog nooit so iets aangepak nie.

“Met geld kan ek nie help nie, maar ek kan stap,” het sy gesê.

Sy stap ook om die belangrikheid van vroeë diagnose van die seldsame Tyrosinemia Tipe 1 te beklemtoon. Dit is ‘n seldsame genetiese metaboliese toestand wat veroorsaak dat Lyra se liggaam nie proteïene kan verwerk nie – dit bring mee dat alledaagse kos in haar liggaam in ‘n gifstof omskep word.

Weens dié mediese toestand is Lyra se lewer en niere voortdurend onder druk en is elke dag ‘n fyn balans tussen ‘n streng, lae-proteïen mediese eetplan, ‘n gespesialiseerde formule en ander daaglikse medikasie wat nie geredelik beskikbaar is nie. Lyra benodig ook voortgesette gespesialiseerde sorg en evaluering by die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad, waar sy na alle waarskynlikheid ‘n leweroorplanting sal ondergaan.

“Ongeag die terugslae, uitputting en strawwe omstandighede, hou ons aan om vorentoe te beweeg vir Lyra en vir Tyrosinemia tipe 1-bewustheid. Elke tree is ‘n tree nader aan Durban,” sê Vicky.

Individue, besighede en ook dié wat verblyf kan verskaf, en Vicky van hulp kan wees, of haar per kilometer wil borg, kan aan haar ‘n boodskap op WhatsApp stuur by 065 565 8042.

Volg ook Vicky Verster op Facebook vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article