Die skaakmatsituasie by die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley is tekenend van ’n uitgerekte politieke drama wat nie net die stad se infrastruktuur laat ineenstort nie, maar ook die ANC se vooruitsigte vir die komende verkiesing ernstig in gevaar stel.
Só sê prof. André Duvenhage, politieke ontleder.
Dit kom nadat Bentley Vass, LUR vir samewerkende regering, sy sperdatum aan die speaker en die raad aangeskuif het waarin laasgenoemde moet bewys die munisipaliteit kan homself regeer, of anders sal die provinsiale regering ingryp en beheer oorneem.

In sy vorige skrywe het Vass die munisipaliteit 14 dae gegee om redes te verskaf waarom die munisipaliteit nie onder administrasie geplaas of ontbind moet word nie. Die stap volg nadat die munisipaliteit versuim het om aan ‘n vroeëre Artikel 139-direktief van Maart 2026 te voldoen om dit onder administrasie te plaas en die raad te ontbind.
Dit, op die vooraand van die volgende plaaslike munisipale verkiesing.
Raad verpas sperdatum
Vass het geëis dat die speaker en die raad dringende oplossings vind vir die voortdurende onstabiliteit in die raad, wat vererger is deur herhaalde ineenstortings van raadsvergaderings en die omstrede skorsing van die munisipale bestuurder, Thapelo Matlala. Matlala en die munisipaliteit het hul stryd in die hof voortgesit waarin die hof bevind het sy skorsing was onwettig, en die speaker en burgemeester persoonlike kostebevele teen die speaker en burgemeester gelas.
LEES OOK: Chaos en magstryd binne Sol Plaatje-munisipaliteit duur voort
Ná ‘n mislukte spesiale raadsitting in Maart 2026, het Vass met die swepe van die verskillende politieke partye vergader en beklemtoon politieke verskille mag nie dienslewering benadeel nie.
Die departement van vandeesweek bevestig hy het geen terugvoering van die Sol Plaatje-raad ontvang nie. Die raad moes teen 2 April verslag gedoen het, maar het die sperdatum verpas.
Die LUR “dink tans” oor die pad vorentoe in lyn met toepaslike wetgewing. Luidens ’n verklaring van sy departement is Vass se primêre fokus om goeie bestuur en administratiewe leierskap te versterk sodat die munisipaliteit sy diensleweringsverpligtinge teenoor die gemeenskap kan nakom.
“Alle stappe sal binne die raamwerk van die reg geskied.”
Stryd om mag oor miljarde rande
Volgens Duvenhage spruit die gebeure uit ’n stryd om miljarde rande en die mag daarom.
“Die konflik wentel oor ’n massiewe projek van R2,3 miljard wat geoormerk is vir die vervanging van die Sol Plaatje-munisipaliteit se water- en sanitasie-infrastruktuur. Die enorme bedrag het ’n faksie-stryd binne die ANC ontketen. Aan die een kant is daar dr. Zamani Saul, premier; Martha Bartlett, burgemeester en Dipuo Peters, ‘n voormalige premier en nou die speaker. Dié groep wil na bewering beheer oor die projek hê deur hul eie voorkeur-persoon as munisipale bestuurder aan te stel.
“Aan die ander kant word Matlala gekonfronteer met minstens 15 aanklagtes van finansiële wanbestuur.”




LEES OOK: ‘Dinge gebeur in Riverton’ om watersekerheid te bevorder
Duvenhage beskryf Matlala se oorlewingstaktiek as ’n “Stalingrad Zuma-strategie”, waar hy hofgedinge glo gebruik om die tugondersoek te vermy en ’n sogenaamde “tender-netwerk” mobiliseer vir ondersteuning. Die stadsbestuurder het ’n “semi-gemilitariseerde” karakter geword.
Duvenhage meen Vass probeer ’n balans vind deur die partye tot breekpunt te dryf voordat hy finaal toeslaan.
Gemeenskap ly onder haglike toestande
Terwyl die politieke toutrekkery voortduur, ly die gemeenskap onder haglike toestande. Rioolprobleme is so erg dat Transnet miljoene rande moes bestee om spoorlyne te lig sodat dit nie deur rioolwater oorstroom word nie.
LEES OOK: Riool-ramp by Kamfersdam dwing Transnet tot reddingsplan van miljoene rande
Duvenhage meen die ANC moet verantwoordelik gehou word vir die afgelope 30 jaar se verval..
Met die verkiesing op die horison, waarsku Duvenhage dat die ANC in die Noord-Kaap in groot moeilikheid is. Hy voorspel dat die party selfs beheer oor die Sol Plaatje-munisipaliteit kan verloor.
“Verskeie faktore dra hiertoe by. Die opkoms van die Patriotic Alliance (PA) groei sterk deur op bruin identiteitspolitiek te fokus.
“Peilings dui aan dat tradisionele ANC-kiesers eerder nie sal stem nie eerder as om vir ’n ander party te stem, wat die DA se relatiewe posisie versterk omdat hulle hul kiesers meer effektief kan mobiliseer. Die DA het egter sy eie probleme met die polemiek oor John Steenhuisen wat as minister van landbou die boere se steun verloor het met sy hantering van die bek-en-klouseer-krisis.”
Duvenhage skat die ANC se nasionale gemiddelde steun is tans tussen slegs 30% en 35%.
“As die ANC nie die diensleweringskrisis en interne korrupsie in Kimberley en die provinsie kan oplos nie, kan die kiesers hulle by die stembus straf.”





You must be logged in to post a comment.