Leticia Swart is een van vier onderwysers by die Laerskool Loeriesfontein wat deur die plaaslike windkragaanlegte ondersteun word – ’n belegging wat ’n sigbare verskil maak. Sy gee tans Afrikaans huistaal aan graad 5- en graad 7-leerders, asook lewensvaardighede aan graad 6-leerders.
Swart is passievol daaroor om ’n positiewe en ondersteunende leeromgewing vir elke leerder in haar klas te skep.
‘n Program, gefinansier deur die Loeriesfontein- en Khobab-windkragaanleg, gee voorkeur aan die befondsing van onderwysers, vaardigheidsontwikkeling, asook geletterdheids- en STEM-ondersteuning.

Dit speel ’n kritieke rol op verskeie vlakke, en verbeter die algehele gehalte van onderrig en leer op grondslag-, intermediêre en seniorfasevlak.
“Die windplase het ’n groot verskil gemaak aan my rol en werk as onderwyser. Hulle bied waardevolle geldelike ondersteuning aan ons skool, wat help om hulpbronne, fasiliteite en leermateriaal te verbeter. Dit stel ons in staat om ’n meer doeltreffende en positiewe leeromgewing vir ons leerders te skep. Ek is ook beter toegerus om op onderwys te fokus en my leerders op die beste moontlike manier te ondersteun,” sê Swart.
Behalwe Swart word nog onderwysers deur die program ondersteun.
LEES OOK: Gehalte produkte nou om die draai te danke aan toelaag vir onderneming
Enrico Ryk bied Engels eerste addisionele taal en sosiale wetenskappe aan graad 7-leerders. Letachia Koopman gee Afrikaans huistaal aan graad 5- en graad 7-leerders. Andalee Nel lei die graad2B’s en Carli Burden die graad 3B’s.
Bied personeelondersteuning en aanlynprogramme
Benewens personeelondersteuning befonds die windkragaanlegte ook die Mathematics Curriculum Online-program vir graad 3- tot graad 7-leerders. Die program versterk wiskundevaardighede deur interaktiewe aanlynoefeninge met onmiddellike terugvoer. Weens die behoefte aan bykomende ondersteuning om die program doeltreffend te bestuur, het Joline Klaaste, skoolhoof van die Laerskool Loeriesfontein, suksesvol befondsing vir ’n assistent-onderwyser aangevra, wat tans in haar derde jaar by die skool is.

“Onderwys is een van die kragtigste beleggings wat ons in die toekoms van Loeriesfontein kan maak. Deur plaaslike onderwysers te ondersteun, versterk ons nie net klaskamers nie, maar help ons om selfversekerde en bekwame jongmense te ontwikkel wat môre die gemeenskap sal vorm. Ons is trots om saam met ons skole en onderwysers te staan om betekenisvolle, langtermyn-impak te skep,” sê Vanessa Fredericks, ekonomiese ontwikkelingsbestuurder vir die windkragaanlegte.
Die ondersteuning strek ook tot by die Hoërskool Loeriesfontein waar twee jong onderwyseresse, Merigail van den Heever en Eliana Phoni, asook ’n algemene werker, Willem Koose, befonds word. Dit versterk nie net akademiese aanbieding nie, maar verseker dat die skool ’n veilige en goed instandgehoude omgewing vir leerders bly.
“Wanneer opvoeders ondersteun word, gedy leerders, en wanneer leerders gedy, bevoordeel dit die hele gemeenskap,” sê Swart.





You must be logged in to post a comment.